Tuesday 19 September 2023

Dinsdag-denke: Wees ‘n klokkie

Op ‘n plaas, nie ver buite die dorp nie, is ‘n kampie met twee perde in. As jy die twee perde van ‘n afstand dophou, lyk hulle soos enige twee gewone perde, maar as jy nou sou nader gaan, sal jy iets ongeloofliks sien ...

As jy in die oë van een van die perde kyk, sal jy sien hy is blind. Sy eienaar het egter besluit om hom nie te laat uitsit nie, maar eerder vir hom ‘n goeie huis te bied.

Die wonder van hierdie verhaal is egter dat as jy nader staan en mooi luister, hoor jy die klank van `n klein klokkie. En as jy mooi kyk, sal jy sien die klank kom van ‘n klein klokkie om die nek van die kleiner perdjie wat so ‘n entjie verder op in die veld staan. Dit help die blinde perd om te weet waar sy vriend is.

As jy die twee perde so staan en dophou, sal jy sien dat die perd met die klokkie aanhoudend omkyk om te sien waar sy blinde vriend is, en die blinde perd sal altyd mooi luister om die klokkie te hoor en dan dié geluid te volg, want hy weet sy vriend lei hom op die regte pad en sal hom nie laat afdwaal of laat verdwaal nie.

Wanneer die perd met die klokkie saans stal toe stap, stop hy kort-kort en kyk dan om, om seker te maak sy blinde vriend raak nie agter nie en dat hy nog die klokkie kan hoor.

Net soos die eienaar van hierdie twee perde, sal God ons NOOIT wegggooi net omdat ons nie perfek is nie. Hy kyk na ons en sorg selfs dat daar mense oor ons pad kom wat ons kan help as ons hulp nodig het.

Somtyds is ons die blinde perd en God is die perd met die klokkie en ons kan Hom met vertroue volg. Somtyds is ons die perd met die klokkie wat 'n ander moet lei.

Goeie vriende is altyd daar, jy mag hulle nie altyd sien nie, maar jy weet hulle is altyd daar.

En onthou ... wees vriendeliker as wat soms nodig is, want almal wat jy ontmoet veg met of teen iets ... hetsy dit pyn, siekte, eensaamheid, finansies of verwerping is.

Almal van ons veg elke dag teen die duiwel!! Mag elkeen van ons elke dag ‘n klokkiedag beleef, en dat ons almal vir ‘n ander ‘n klokkie sal wees ...

No comments:

Post a Comment