Friday 23 June 2023

Daar is gedurig ‘engele’ om ons ...


Daar is gedurig ‘engele’ om ons. Doodgewone mense, soos ek en jy, wat altyd daar is op die regte tyd en regte plek om ons te help, te bemoedig, te ondersteun, te inspireer, te motiveer en ons op te help as ons geval het. Met liefde en omgee ‘n ent saam met ons te stap totdat ons bene weer sterk genoeg is om self verder te loop.

Ek het al beleef dat as ek die dag bietjie hartseer is of af voel (ons almal kry maar soms sulke treurige dae) dan kom daar onverwags ‘n bemoedigende SMS of 'n WA van ‘n vriendin, of ‘n mooi e-pos met 'n  boodskap van bemoediging. Dis die ‘engele’ in ons lewe. Mense wat hulle beskikbaar stel vir die werking van die Heilige Gees in hulle. Omgee-mense ...

Hoe dikwels gebeur dit nie dat jy skielik aan iemand dink nie? Wanneer dit met my gebeur, begin ek sommer dadelik intree en bid vir daardie persoon wat in my gedagtes gekom het, deur die influistering van die Heilige Gees, en dan hoor ek later dat die persoon op daardie oomblik ‘n krisis beleef het. So gebruik die Here elkeen van ons, doodgewone mense.

Hierdie goed is nie toevallig nie. Niks in ‘n kind van die Here se lewe is ooit toevallig nie. Ons is instrumente in ‘n magtige God se hand en wanneer ons dit toelaat, en gehoorsaam is vir Sy influistering in ons gees, gebruik Hy ons om ‘engele’ vir ander te wees.

Hy stuur mense oor ons pad wanneer dit nodig is. Soms is ons gewillig om te help, soms nie.

Ek glo ook wel dat daar werklik engele in die lug is, wesens wat die Here soms gebruik, wanneer daar nie ‘mens-engele’ beskikbaar is nie. 

Maar ek wil vanoggend net uit my hart baie dankie sê vir al my vriende en vriendinne ‘engele’ wat so getrou luister, soveel omgee, en altyd daar is vir my. Julle is kosbaar en ek is regtig baie dankbaar en lief vir julle. Sonder julle sou die pad maar eensaam en baie moeiliker gewees het. Dankie dat julle my naam in julle gebede noem, my arms oplig wanneer hulle moeg raak en afval, my met liefde bemoedig en my gesig na die sonkant gedraai hou.

As berader en bemoediger, bly ek ook maar net 'n mens, en het self soms 'n bietjie TLC, verstaan en vashou nodig.

Mag julle ‘n wonderlike naweek hê en die warmte en liefde van Jesus om julle voel.

Julle, die ‘engele’ in my lewe.

[Dankie, vir hierdie anonieme pos wat op die tafel beland het.]

No comments:

Post a Comment