Sunday 18 June 2023

Dink hieroor: Waarom bid ons?

Teks: Jakobus 5:16; Hebreërs 10:19

Gebed is deel van ons geloof. Om in gebed te verkeer is ‘n kenmerk van ‘n Christen se lewe. Tog moet ons nie net bid nie, omdat dit verwag word nie. Ons moet in opregtheid en afhanklikheid bid. Ons moet bid met vertrou en intelligensie. Ons moet bid met begrip en kennis, veral oor die krag van gebed in die uitwerking van sake.

David Bryant sluit hierby aan in sy boek Converts of Prayer waarin hy verduidelik dat ‘n groot en gesonde gebedsbeweging geestelike groei in die kerk en wêreld tot gevolg kan hê. Die vroeë kerk het geglo in gesamentlike gebed vir verskeie redes. Dit word bevestig deur die woord van Jakobus, waarin hy tereg sê: Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Jou gebede is belangrik. Daar is niemand wat met groter vrymoedigheid in gebed tot God se troon kan nader as jy nie. In Jesus Christus het ons toegang verkry tot die Allerheiligste (Hebreërs 10:19) en kan ons tot God nader as Sy kinders.

Gebed:
Here, U ken my, U sien dwarsdeur my, of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip. (Ps 139:1-6)
Amen.

André

[Gaan lees HIER na nog verrykende boodskappe.]

No comments:

Post a Comment