‘n Man wag op die lughawe van Portland, Oregon, vir ‘n vriend wat pas van ‘n vliegtuig afgestap het, David A. Sargent. Sy aandag word getrek deur ‘n ander man wat met twee tasse in sy hande, tussen die ander passasiers deur, aankom.
‘n Seuntjie, dalk ses jaar oud, hardloop hom tegemoet. Die man buig af, gee die seuntjie ‘n innige druk, hou hom ‘n rukkie vas, sê: “Ek het jou so gemis, my kind.” Die seun antwoord skamerig: “Ek vir Pappa ook.” Die man kom regop en groet ‘n ander seun, miskien tien jaar oud. Hy hou die groter seun se gesig in sy hande, kyk in sy oë: “Ai, seun, ek het na jou verlang.”
‘n Dogtertjie van omtrent ‘n jaar oud sit in die ma se arms en wurm gretig om by haar pa te kom. “My Babatjie,” sê die man teer en neem die kleintjie in sy arms, soen haar en wieg haar heen-en-weer. Dadelik lê die kleintjie haar koppie vol bevrediging teen sy skouer.
Hy gee die dogtertjie vir sy oudste seun. “Die beste het ek vir laaste gebêre,” en met dié woorde neem hy sy vrou in sy arms en gee haar ‘n innige, lang soen. Hulle kyk mekaar in die oë. Hy sê gevoelvol, “Ek het jou so lief!”
Die man wat sy vriend kom haal het, besef skielik hoe hy die gesinnetjie aanstaar. Verleë sê hy “Wow! Hoelank is julle al getroud?” “Twaalf jaar,” antwoord die ander man sonder om sy oë van sy pragtige, blosende vrou af te neem.
“Hoe lank was jy weg van hulle af?” vra die starende man. “Twee volle dae.” TWEE DAE??? Die man is verstom. Hy sou sê hy was maande weg van sy geliefdes af. Verleë prewel die starende man: “Ek hoop my huwelik sal na twaalf jaar ook nog so hartlik en warm wees.”
Sonder om sy vrou se hand te los, kyk daardie ander man hom direk in sy oë en met ‘n erns wat die toeskouer tot in sy hart tref, sê hy: “Moenie hoop nie, Vriend. Besluit!”
[Klik HIER vir nog stories]
No comments:
Post a Comment