Tuesday 6 June 2023

Chris se storie

Op 21 Junie 2012 het ek 'n selfoonoproep ontvang met die volgende strekking: "Meneer, ek weet nie of meneer my nog sal onthou nie, ek was in 1965 by Meneer in matriek by die HTS Welkom. My naam is Chris en ek moet Meneer weer sien. Is Meneer 26 Junie tuis en kan ek daar aankom?"

Ons reël toe 'n tyd en gee hom my adres. So kom hy toe hier aan, vergesel van sy vrou en 'n besoeker uit Duitsland. Hy sê toe dat hy my selfoonnommer by 'n medematrikulant, met wie ek nog kontak het, gekry het.

Hier volg Chris se storie:
"Ek weet nie of Meneer dit sal kan onthou nie, maar in 1963, toe ek in st. 8 (gr. 10) was, so teen begin September, het ek vir die eerste keer 'n wiskunde toets gedruip. Meneer het so voor my bank gestaan, die rottang onder my ken gedruk, my opgelig en gesê dat ek my talente deur my agterwêreld trek. Ek het geantwoord dat ek wel geleer het, waarop meneer gesê het dat ek dan verkeerd leer en dat Meneer my sal leer hoe om te leer, wat Meneer toe gedoen het. Ook het Meneer my 'n oefenprogram gegee om fiks te word. Op daardie stadium het ek in die O/15D-span rugby gespeel. Ek het dit wat Meneer my geleer het, toegepas en ook begin oefen. Ek het wiskunde tot en met matriek met onderskeiding geslaag en het ook vir twee jaar na mekaar die myl op die atletiekbyeenkoms gewen en agsteman vir die eerstespan, wat Meneer afgerig het, gespeel. Ek het elke dag voor skool met 'n meisie wat in die Handelskool was, op die oorbrug tussen die twee skole gesels. Meneer het altyd van die "meisie op die brug" gepraat en gesê dat sy nog gaan maak dat ek laat is vir skool en dan in die moeilikheid sou wees. In my st. 9- jaar (gr. 11) het meneer my ouers na die skool toe laat kom en hulle gevra wat die ommekeer in my lewe teweeg gebring het, waarop my ma geantwoord het: "Jy, meneer Du Plessis."

Na matriek is ek Carltonville toe waar ek 'n vakleerling geword het, maar Meneer se woorde dat ek nie my talente moet deurtrek nie, het my laat verder studeer en het ek 'n meganiese ingenieur geword en is terug na die myngroep. Intussen het ek getrou met die "meisie van die brug". Ons het twee seuns en 'n dogter ryker geword en ek het vir die "meisie van die brug" gesê dat ek moet Meneer Cor opsoek. Die oudste seun het ook 'n ingenieur geword en is toe deur 'n taxi doodgery.
Dit was 'n harde slag vir ons en ons het toe 'n dogtertjie aangeneem. Veertien dae nadat ek my mediese ondersoek met vlieënde vaandels geslaag het, het ek soos 'n os neergeslaan en het 'n vyfvoudige hartomleiding ondergaan. toe ek tuiskom, het ek vir die "meisie op die brug" gesê ek moet by meneer Cor uitkom. Toe ek tuiskom, het ek ook weer verder studeer en 'n elektrotegniese ingenieurskwalifikasie verwerf. Ek het gevorder tot resident-ingenieur vir die myngroep in Wes-Transvaal. Ek het verskeie jongmense, my eie kinders ingesluit, die lewensles wat Meneer my gegee het, gegee. Verskeie het my later kom bedank.

Ons tweede seun het sy studies om 'n CA te word, voltooi en sou net met sy klerkskap begin, toe 'n taxi aan die verkeerde kant van die pad, in 'n 60km/h-sone om 'n draai teen hom bots, sy kar goed 50m terugstoot en ook hy is aan 'n breinbesering oorlede. Ek het weereens vir die "meisie op die brug" gesê dat ek by meneer Cor moet uitkom.

Ek het intussen afgetree en ontwerp toe 'n patent vir gebruik in die myne, wat ek bemark vir baie miljoene en ek verkoop ook toe die patenteregte en belê in 'n wildsplaas net buite Potchefstroom. Hier het ek een Sondag na kerk, neergeslaan, en die "meisie op die brug" het die nooddienste se helikopter laat kom en is ek afgevoer na Pretoria. Hier word ek toe meegedeel dat die kardioloog wat my tevore geopereeer het, self in die saal langsaan lê en 'n jong dokter vra toestemming om voort te gaan. Na 'n uur en 'n half hoor ek dat hy vir die suster sê dat hy net nie die aar oopkry nie en sal moet ophou. Ek onthou dat ek gesê het: 'Here, help!' Die volgende oomblik sê die suster dat hulle nog dit moet probeer en daar werk dit toe.

Weer het ek vir die "meisie op die brug" gesê dat ek by meneer Cor moet uitkom. En hier is ek nou. Ons wil vir Meneer baie, baie dankie sê dat Meneer my talente raakgesien het en ontsluit het. Ek gee graag vir Meneer namens ons gesin hierdie woorde van dank vir wat Meneer vir my beteken het en nog steeds beteken."

Mnr. Cor: "Nodeloos om te sê dat dit vir my en Susan 'n baie emosionele oomblik was dat 'n leerling na 49 jaar die moeite doen om my te kom bedank vir wat ek vir hom beteken het, om hom op die regte pad te plaas.

Mnr. Cor du Plessis het die volgende gebed vir hulle gestuur:

My gebed
(Vir Chris en Bettie, die "meisie op die brug")

Ons Vader in die hemel. Dit is met dankbaarheid dat ek U troon van genade nader om aan U die dank en aanbidding te bring wat U toekom.

Dankie o Heer, dat u my 49 jaar gelede gebruik het om 'n boompie by die lewende waterstroom te plant en vir 'n paar jaar te voed. Dankie dat u hierdie boompie laat groei het tot 'n pragtige boom, geanker met sy penwortel, die "meisie op die brug." U het hierdie boom laat vrugte dra en sy skaduwee was 'n rusplek vir vir sy klein boompies. Sy vrugte het vir baie ander ook van voedsel voorsien. Dankie, o Heer, dat toe die weerlig sy eerste groot tak afgeslaan het, U die wond verseël het, sodat die boom en sy penwortel nie verrot het nie. So ook het U toe die wind sy kroon geknak het, U hand oor hom gehou en weer reguit laat groei. Toe daar weereens 'n storm oor hom gekom het en die volgende groot tak afgeruk is, het U weer in U groot genade die wond genees en nie toegelaat dat die boom verrot nie. Dankie ook Heer vir die twee takkies, een geënt op die boom, wat nou die vrugte en veiligheid kan geniet. Maar o heer, die boom was weer beproef en op sy noodkreet: "Here, help", het U ingegryp en weer lewe gegee, sodat dit vandag nog 'n sieraad is.

Ek bid U o Vader, as dit U wil is, spaar hierdie boom vir sy penwortel en twee takkies en laat sy vrugte en skaduwee nog vir baie jare 'n veilige vesting vir almal wat met hom in aanraking kom, wees. dit vra ek in die naam van Jesus Christus ons Verlosser en Saligmaker.
Amen

[Oorgeneem uit Kerkblad Jeffereysbaai]

No comments:

Post a Comment