Tuesday 13 June 2023

Dinsdag-denke: God se beloftes is waar

'n Pa en sy dogtertjie gaan swem eendag in die see, en na ‘n rukkie kom die pa agter dat die see besig is om baie onstuimig te raak. Hy skree vir sy dogtertjie om op haar rug te draai en te bly dryf. Hy gaan strand toe om hulp te gaan soek en skree vir haar: “Maria ek belowe ek kom terug vir jou.”

Nie lank nie of daar is ‘n klomp bootjies en soekgeselskappe op soek na die dogtertjie. ‘n Groep mense het op die strand begin saamdrom en wag op tyding of Maria gevind is.

Dit was eers 4 ure later wat hulle haar gekry het, ver van die land af, maar sy was kalm en het op haar rug gedryf en was hoegenaamd nie bang nie.

Juigkrete en trane van blydskap en verligting het die reddingspan verwelkom toe hulle met haar op die land aankom. Hulle het Maria gevra, wat so kalm was, hoe sy dit reggekry het. Sy het hulle geantwoord: Pappa het gesê ek moet op my rug dryf en hy het belowe dat hy my sou kom kry. Ek het net op my rug bly gedryf soos hy gesê het ek moet, want ek het geweet hy sou kom.

So is die belofte van die Here aan ons ook. Soos die dogter haar Pappa geglo en vertrou het, moet ons ook die Here vertrou, want Hy belowe: "Vertrou op My, glo in My, My beloftes is waar."

Ons lees die volgende in Heb 13:5-6 in Die Boodskap:

5.God het mos gesê: “Ek sal jou nooit alleen los nie en Ek sal jou nooit in die steek laat nie.” 6. Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is die Een wat my help. Ek hoef vir niks bang te wees nie. Buitendien, wat kan ’n mens aan my doen?”

Soos die pa in die storie vir die dogtertjie teruggekom het soos hy beloof het, so beloof God ook dat Hy ons nie alleen sal los nie. Hy help ons deur elke moeilike situasie wat op ons pad kom.

Kom ons pak vandag hierdie dag aan met die wete dat God by ons is, en dat ons Hom kan vertrou met ALLES in ons lewens, want Hy is ‘n God wat Sy belofte nakom.

[Nog kosbare stories HIER]

No comments:

Post a Comment