Thursday, 9 October 2025

Ouma se wenke: Allerlei

* Kunsklippies: In plaas van klippies onder 'n potplant vir dreinering, kan jy stukkies polistireen ook gebruik. Dit word nie deur water geaffekteer nie.

* Korrel vir korrel: As jy weer rys kook, voeg 'n paar druppels suurlemoensap by. Dit hou die korrels mooi los en gee ook 'n aangename geur aan die rys.

* Vrolike drankies: Om drankies vir 'n partytjie in die somer op te kikker, plaas opgekerfde stukkies vrugte in elke ysvakkie wanneer jy ysblokkies maak.

* Liggewig deeg: Om pasteideeg ligter te maak, gebruik sodatwater pleks van kraanwater.

* Sagter op jou hande: Gooi 'n skootjie babapoeier in 'n nuwe paar rubberhandskoene. Die handskoene sal makliker aanglip - en jou hande sal minder sweet.

* Kwepergeheim: Kwepers kan baie lank gebêre word en dit raak geleidelik soeter. Pluk die kweper met stingel en al van die boom af, maar moet dit nie kneus nie. Hang dit in 'n koel droë plek op. Die kwepers sal maande lank goed bly en mettertyd minder frank smaak.

No comments:

Post a Comment