Die middeljarige man stop by die bloemiste, hy wil gou ’n bestelling plaas vir blomme wat deur Interflora aan sy moeder gestuur moet word. Dit is môre haar sewentigste verjaarsdag, maar hy sal nie môre kans kry om die tweehonderd kilometer af te lê om die blomme vir haar te neem nie.
Terwyl hy uit sy motor klim, merk hy die dogtertjie op wat op die sypaadjie sit en huil.
Hy vra haar wat fout is en sy antwoord: “Ek wil graag ’n rooi roos vir my moeder koop, maar ek het net een rand en die rose kos vyf rand ’n roos.”
Die man glimlag en sê: “Kom saam met, ek sal vir jou ’n mooi rooi roos koop.” Hy koop toe vir haar die roos wat sy graag wil hê en plaas die bestelling vir sy ma se blomme. Terwyl hulle uit die winkel stap bied hy aan om haar by die huis te gaan aflaai.
Sy antwoord: “Ja, asseblief! Maar sal u my na my moeder toe neem.”
Sy beduie vir die man die pad en weldra arriveer hulle by die begraafplaas. Sy klim uit en stap na een van die nuut opgemaakte grafte en plaas die roos op die vars hopie grond wat oor die graf is.
Die man het teruggegaan na die bloemiste, die Interflorabestelling gekanselleer, die grootste bos blomme in die blommewinkel uitgesoek en die tweehonderd kilometer gery na sy ma se huis.
Ons moet aan hulle vir wie ons lief is, blomme gee terwyl hulle lewe, wanneer hulle dood is, kan hulle dit nie waardeer nie.
No comments:
Post a Comment