Tuesday 19 March 2024

Dinsdag-denke: Vir ons beswil

Soms bring God swaarkry oor Sy kinders om hulle weer op die regte pad terug te bring. 

As dit met ons goed gaan, is dit so maklik om ver van God af weg te dwaal. 

Dit is eers in tye van nood en swaarkry dat ons werklik besef dat ons self hulpeloos en onmagtig is, dat ons ontdek dat daar net Een is wat werklik kan help en vir ons uitkoms kan gee. Aan die einde van die dag is daardie stuk swaarkry wat ons weer by God uitgebring het, dus tot ons beswil. 

God het altyd 'n doel met ons seerkry en swaarkry. Hy wil ons daardeur nader aan Homself trek, Hy wil ons leer dat ons nie sonder Hom kan lewe nie, dat ons Sy liefde en krag elke dag nodig het, dat hierdie pyn en swaarkry waarteen ons so skop, ons uiteindelik ryker en ryper kinders van God sal maak. 

Dwarsdeur die Bybel kry ons te doene met mense wat deur hulle swaarkry vir God beter leer ken het. Job erken op die ou end dat sy swaarkry die bril was waardeur Hy God gesien het.Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien. Job 42:5

Hemelse Vader, ek weet so goed dat U 'n doel het met hierdie probleme in my lewe, maar ek kan nie leer om vrede te maak daarmee nie. Dankie dat U my daardeur wil leer en dat U dit wil gebruik om my voete weer op die regte pad te kry. Amen.  

No comments:

Post a Comment