Sunday 10 March 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Saartjie en die wynduin

Groete en Vrede!!!

Een ding is verseker ... en dit is dat die Skepper van hemelgoed en stofaarde voorwaar ‘n sin vir humor het. Die Bybel beduie mos nie verniet dat ons as mensegoed na Sy beeld en Sy gelykenis geskape is nie. Daarom is dit heel veilig om te aanvaar dat ons in so baie opsigte net soos Hy is. Vat nou maar daardie laat agtermiddag toe die Genadewa met ’n sagte skud bo-op ‘n groot wit Kalahari sandduin sy staan gekry het. Ek en die Mooiste Mooi het met binneste binnes wat oorloop van verwagting uitgeklim en nader aan die voormalige plaasopstal met sy afgedopte mure en roesbruin sinkdak gestap. Vanweë 'n vroegmiddag wilde en woeste westewind, is die groenerige voordeur heel toe en die huismense se spore om die huis, is lank terug doodgevee.

Ons wou net omdraai om weer in die Genadewa te klim, toe Saartjie onder in die sandstraat ons aandag met swaaiende arms probeer trek. Die Mooiste Mooi waai met 2 arms terug en sekondes later ry ons stadig en versigtig die duin af. Niemand wil hier vasval nie. Die Genadewa maak sommer sy eie pad na Saartjie se huis totdat ‘n lynregte binnedraad ons forseer om te stop. Die laaste sowat 30 meter sal ons maar ons weg moet vind deur 'n aantal kniehoogte driedoringbossies heen. Intussen wag Saartjie heel geduldig in die koelte van ‘n groot Prosopis waar sy vir ons stoele gemaak staan het. Sommer knap na die groet, verduidelik Saartjie skamerig en al stotterende dat sy vandag alleen op die plaas is. “Oubaas en die m-m-manne is sonop veld toe om skaap te werk en K-k-koekie en haar suster is buurplaas toe om te gaan k-k-uier.”

En so begin die gesels. Net ek, die Mooiste Mooi en stotterende Saartjie in die skaduwee van die groot Prosopis. Lateraan kon Saartjie dit nie meer inhou nie en vertel met ‘n groot skaambaadjie aan van die wynduin waarmee sy stry. Met bekeerore luister ek en die Mooiste Mooi na haar relaas wat sy afsluit met “En dan p-p-pastoor is daar nog die twak ook. M-m-maar die wynduin ... dis die ergste. Daai soetwyn maak my sukkel en sweet” sê sy.

Ons moet aanstoot huis se kant toe. En net voordat ons groet, trek Saartjie haar skaambaadjie met ‘n gestotter uit. Baie sag vloei haar diepste hartsbegeerte so sukkel-sukkel oor haar lippe. “P-p-pastoorgoed” hakkel sy kinderlik opreg en moedig “jy moet tog a-a-a-se-b-b-blief vir my b-b-bid. B-b-bid tog vir my om die soetwyn te los. Annerdag kan ons vir die rook b-b-bid maar nou is dit eers die wynduin wat pla. Die Here sal mos h-h-help p-p-pastoor, H-h-h-hy sal mos help?”

Die Mooiste Mooi het opslag agter Saartjie gaan staan en haar arms styf om haar gevou. En so is daar vir haar gebid. Net gebid. Net gebid en gevra vir krag en hulp vir die wynduin en rooklus. Daardie goeters wat haar loop saam met die Kêrelkind van God vir so moeilik maak.

Twee weke of wat later, wieg die Genadewa weer al te gemaklik oor die bekende tweespoorpaadjie na die plaas waar Saartjie-goed bly. Sommer so in die ry, wonder ek of Saartjie deurgedruk en rotsvas bly staan het met haar groot besluit. ‘n Besluit om die soetwyn en twak deel van haar gistergoed te maak. Ai, dit sal mos tog te kosbaar wees as Saartjie bo-op haar dwarsduine kan staan en beduie dat sy met Vader se hulp, die saak agter haar kan sit. So ‘n gebeurtenis is mos veel kosbaarder as sagte genadewater wat op die vlak van ‘n dorre woestyn val.

Ons kon vir Saartjie van ver sien. Sy het ‘n vrolike borriegeel doek om die kop gehad en ‘n helder groen rok wat tot by haar enkels hang. Vandag lyk Saartjie heel anders en sy beweeg anders .. al asof sy oor die vlak sweef. Met glimlagte wat so wyd soos die uitgestrekte Kalahari horison strek, kyk ek en die Mooiste Mooi vol opgewondenheid na mekaar. Hoe dan anders.Dit is mos net ons Skeppergod kan so iets doen. Net Hy kan maak dat Saartjie hierdie saak agter haar sit want Hy bly opreg en Hy bly getrou. Self ou koning Dawid het mos nie verniet ‘n verlossingslied gesing nadat Die Here hom gered het van die wraaksugtige Saul en sy vyande nie. Ai, sal dit nie spesiaal wees as Saartjie voortaan ook kan sing en dans en dankbaar wees oor haar verlossing nie.

Net soos vantevore, het die lynregte binnedraad ons geforseer om weer sowat 30 meter van Saartjie se plekkie af te stop. Nog voordat ek deur die draad kon klim skree-vra ek opgewonde en vol nuuskierigheid “En Saartjie, hoe gaan dit met jou wynduin?”

"Nee j-j-jitte p-p-pastoor,” het sy moedig en opreg geantwoord, “die H-h-here is ge-ge-getrou. H-h-hy is w-w-w-waarlik getrou. Daai ge-ge-bed het vir een dag ge-gewerk.” En op daardie oomblik dink ek dat die Here met ‘n vonkel in Sy oog na Saartjie gekyk het. Ons as mensegoed het mos iets van Hom in ons ... selfs humor en pittige sêgoed.

2 Sam 22 verse 26 & 27 (Afr 20) = "Teenoor getroue volgelinge tree U getrou op; teenoor die held wat onberispelik is, tree U onberispelik op; teenoor dié wat hulle rein hou, bewys U Uself rein; maar teenoor die wat vals is, tree U berekend op’”

Gen 1 vers 26 (a) (DB) = “Toe het God gesê: “Kom Ons maak ’n mens, ’n mens wat iets van My in hom het en selfs ’n bietjie soos Ek lyk.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

No comments:

Post a Comment