Tuesday 26 March 2024

Dinsdag-denke: Die dooie eend

Die volgende is ‘n kort verhaaltjie oor die genade van ons Hemelse Vader.

Daar was op ’n keer hierdie seun wat ’n rek present gekry het, maar niks daarmee kon raakskiet nie.
Tot hy op 'n dag op sy ouma se troeteleend aangelê het. Wat natuurlik ’n raakskoot was - met die gevolg: ’n dooie eend. Toe hy paniekerig die eend onder ’n klomp hout probeer wegsteek, sien sy suster hom. Toe hy en sy suster die aand na ete skottelgoed moes was, was sy suster se woorde gou: ek dink jy kan maar alles was, en as jy nie wil nie, onthou gerus van die eend.

Na twee weke was hy so moedeloos gewas dat hy besluit het om maar liewer voor ouma te bieg. En ouma se woorde? Ek weet van die eend, my seun. Ek het alles deur die venster gesien. Omdat ek jou liefhet, het ek jou klaar vergewe. Ek het net gewonder hoe lank jy jou suster gaan toelaat om jou haar
slaaf te maak.

Wat het hier gebeur? Die seun was reeds vergewe, maar hy het gedink hy is skuldig, het geglo hy sal altyd skuldig bly, omdat ouma hom nooit sal vergewe vir haar troeteleend nie. As hy maar net dadelik na ouma gegaan het.

’n Eenvoudige verhaal. Maar dit is ook ons verhaal. Ons skiet nie met rekke nie, maar wel met oneerlikheid, hebsug, woede, arrogansie, leuens. God is soos hierdie ouma. Hy sien ons, al probeer ons wegkruip. Hy reik uit na ons al sondig ons elke dag. Hy hou ons steeds styf vas en verseker ons van Sy liefde en genade net omdat Hy kan. Hy is ons God. Hy verlaat ons nooit oor verkeerde besluite nie, maar betoon eerder sy liefde aan ons.

Die beste voorbeeld wat Jesus vir ons kom stel het, was juis hierdie voorbeeld van genade - onverdiend en liefde onvoorwaardelik. Aan die kruis word Jesus bespot deur die misdadigers wat saam Hom gekruisig word. Een van hierdie misdadigers reik uit na Jesus en dan sien ons hoe Jesus hom verseker dat hy saam met hom in die paradys sal wees. Die Here het elkeen van ons onvoorwaardelik lief en dit is iets waarvoor ons waarlik dankbaar kan wees. Ons dien immers ‘n God wat uitkyk vir ons en ons veilig hou in sy hande.

Bron: Maandblad van die NG-kerk Môregloed
Augustus 2018 

[Dankie, Anoniem, dat jy hierdie stukkie met ons deel.]  

No comments:

Post a Comment