Tuesday 9 January 2024

Dinsdag-denke: Maak 'n verskil

[Carina Benadé: Die Pienk Boekie Nuusbrief nr. 93 Maart 2011]

Die jaar met sy hoogte- en laatepunte, het die Here dit op my hart gedruk om 'n verskil te maak. "Hoe Here," het ek gevra.

"Wees jy die verskil wat jy wil sien ..."

Ons het almal drome en verwagtinge, maar is ons droom en verwagting die identiese plan wat God vir ons het? Elkeen van ons het 'n verantwoordelikheid om by God te hoor wat Sy plan met ons lewens is. God het die antwoord nog voordat ons die vraag vra, en Hy sal ons antwoord. As ons gehoorsaam is en dit doen wat God van ons verwag, sal Hy vir ons seën!

As die jaar meer laagtepunte as hoogtepunte gehad het, kan jy maar weet - God het groot planne vir jou!! Met elke eina in ons lewe het God 'n plan. Hy maak ons sterker om nuwe en groter uitdagings te kan aanpak deur Sy genade. Ons moet egter weet - uit ons eie kan ons niksdoen nie, ons krag lê in stil wees en vertroue in God.

Die jaar nuwe jaar kan 'n verskil in jou lewe maak, omdat jy 'n verskil in iemand anders se lewe kan maak. As jy voel jy kan nie 'n verskil maak nie, want jy is maar net jy, is dit juis vir jou wat die Here wil en kan gebruik. God wil ons vrymaak van al ons negatiewe gedagtes oor onsself. Ons is soms ons eie grootte vyand omdat ons onsself afkraak en nie besef wie ons in God is nie. Besef ons, ons is na die beeld van God geskep ...?

God sê ons moet ons losmaak van die verlede en ons uitstrek na dit wat voorlê. Ons verlede beteken vir God niks, dit is oor ons toekoms wat Hy begaan is. As ons God se salwing in ons lewe wil ervaar moet ons onsself ondergeskik ste aan Sy heerskappy.

Ons kan die verskil wees wat die wêreld nodig het. As ons 'n verskil in een persoon se lewe maak, word God verheerlik.

Is ek en jy bereid om die verskil te wees? Bid en vra God om jou geestesoog oop te maak, sodat jy Sy plan vir jou kan sien. Vra God om jou geestesoog oop te maak, sodat jy Sy stem kan hoor, Hy sal jou antwoord as jy vra wat Sy wil is.

Jy kan 'n verskil in iemand se lewe maak deur bv. net vriendelik te groet, 'n WA te stuur of die skouer wees vir die persoon as hy/sy wil huil.

Hierdie is nie 'n SIELKUNDIGE SESSIE nie, maar 'n OMGEESESSIE. Wie kan iemand beter verstaan as die person wat al self deur min of meer dieselfde krisis moes werk?! Ek is nie 'n sielkundige nie, maar ek sal bv. baie begrip met 'n vrou hê wat deur die pyn van miskrame worstel ... want ek kan uit ondervinding praat, twee miskrame en twee buisswangerskappe verder is nie iets wat jy sommer so agter jou kan sit nie ... Die seer wat ons soms in die lewe ervaar, is dalk die salf vir iemand anders se seer.

God is lief vir jou en my, ons moet dit glo. Ons moenie toelaat dat ons omstandighede ons gevoelens bepaal nie. Ons moet uit God se genade ons oorwinning leef. Moenie toelaat dat ander mense se opinies jou van jou potensiaal of gesond word beroof nie!!

Ons bepaal in 'n mate ons eie toekoms en as dit vir jou voel dat jou lewe saai is en jy soek na iets, is dit miskien vir jou wat God wil gebruik om iets vrugbaars in iemand anders se lewe te saai. Ek kan jare lank net sit en droom ... of ek kan opstaan en die eerste tree in die geloof gee. Al persoon wat die keuse kan maak, is jyself.

Of die omgee-aksie suksesvol gaan wees, dit weet ek nie, maar as dit tot God se eer is, en dit maak 'n verskil in een persoon se lewe was dit suksesvol. Die liefde genees mense - die wat dit ontvang, maar veral dié wat dit onvoorwaardelik gee. (Karl Menninger)

God se barmhartigheid teenoor die wêreld staan nooit los van sy kinders se dade van barmhartigheid nie, God se liefde kry sigbare hande wanneer sy kinders soos sy kinders lewe - deur omgee.

Here Jesus, gee vir my dieselfde omgeeliefde wat U aan die kruis openbaar het. Help my om ander opreg lief te hê. Here, dankie vir mense wat daar is vir my, wat my liefhet en ondersteun en my help al het ek geval. Dankie dat hulle bereid is om na my te luister.
Amen.

No comments:

Post a Comment