Sunday 14 January 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Kruikgeskenk

Groete en Vrede!!!

So ‘n paar oggende gelede, het ek wakker geword met wyle Lukas Maree se Die Weduwee se Kruik wat in stereo iewers tussen my ore refrein. Ek het maar besluit om nog so ‘n rukkie onder die lappe te broei. Daar was die oggend geen rede om vroeg op te wees nie. Met die Mooiste Mooi wat styf langs my steeds rustig en diep asemhaal, het my dinkdinge spoor op vergete gisterpaaie van my lewe gevat. Vergete gisterpaaie wat dik onder die stof lê terwyl wyle Lukas se rasperstem sonder ophou oor en oor en weer en weer in my kop weerklink.

Sommer vroeg-vroeg het my dink staning gemaak by ou-oom Janneman en sy al-te-maer-net-vel-en-been-vroutjie. Ouer mense wat ‘n paar jaar gelede hier op Noenieput begrawe is. Eers was ou-oom Janneman se naam op die doodsengel se lys en sowat 7 maande later sy eg van bykans 30 jaar s’n. Kosbare mense waar ek en die Mooiste Mooi meer as ‘n handvol kere by hulle goedversorgde plekkie gaan oorstaan en kuier het. Alhoewel dit maar net ‘n een vertrek plekkie was, het hulle met ‘n breë bors dit hulle huis noem. En dit is hier, by hierdie selfde plekkie, waar hulle gereeld gehoor het van Vader se wyd uitgestrekte genade en oorloop liefde.

Een spesifieke gebeurtenis so ‘n paar jaar gelede, trek my dink se handrem heel vas. Dit was daardie een spesifieke middag met ‘n Woordgoed byeenkoms. Mens kon sommer van ver af sien ou-oom Janneman lyk anders. Sy gesig blink soos Moses s’n daar in die rondloopwoestyn terwyl vreugde, blydskap en genoegdoening uit sy oë straal. Hy het ook 'n splinternuwe denim broek en ligblou gholfhempie aangehad en sy kerkskoene het geblink soos ‘n nuwe spieël. Ek het my hand uitgesteek, hom reguit in die oog gekyk en hartlik gegroet. Die Mooiste Mooi wat net na hom ingekom het, het sy binnekant blink gevryf met ‘n opmerking dat hy ‘n nuwe sikspens is.

‘n Skaam glimlaggie het om sy amperse tandlose mond adres gemaak terwyl hy steeds my groethand styf vashou. Op daardie oomblik, onthou ek weer die opgewondenheid in Koba en Annie se stemme toe hulle na ‘n voorwêreldtoer, die Kalahari koerant se nuutste nuus kom afgee het. “Pastoorgoed,” het Koba opgewonde gesê “julle sal dit tog nie glo nie. Oom Janneman, Pastoor, die ou-oom het bekeer. Hy het mos laaste Sondag uitgekniel toe die eerwaarde hier was. Dis nou bietjie meer as ‘n week en hy drink hy nie meer nie. Niks nie en nou is hy so droog soos daardie uitskep boorgat op Witkop se pan.”

Tyd is genadeloos en ons moet begin. Die gekoggel en geskerts met ou-oom Janneman wil egter maar net nie einde se kant toe staan nie. Met al die pittige opmerkings wat gemaak word, glimlag hy stilweg en laat net sy kop sak. En toe skielik en half onverwags kyk hy Betta vol in die oog en sê, “Ek het die lekkerte van my nuwe klere se aantrek vir vandag se Woordgoed gebêre. Hierdie lekkerte om nuwe klere te kan aantrek, is te veel vir my. Klere wat God se Kêrelkind vir my gegee het. Nou het ek gedink, as ek die lekkerte met julle deel, gaan die lekkerte mos langer aanhou.”

Versigtig trek ek my Bybel nader om weer die bekende verhaal van die weduwee en haar kruik te lees terwyl ek geluidloos saam met wyle Lukas sing. Die Mooiste Mooi daarenteen is stadigaan besig om wakker te word en skuif onder my blad uit. Opeens begin ou-oom Janneman se woord en daad nes skrop in my binneste binne. Woorde van ‘n nederige Kalahari mens sonder enige geleerdheid, wat skaamteloos bereid is om met dankbaarheid die lekkerste lekker van sy hart, met ander te deel.

Saggies begin ek dankie sê. Dankie sê met woorde wat diep uit my binneste binne kom. Dankie woorde vir ‘n kruikgeskenk, ‘n Kruikgeskenk vir alle mensegoed. Die kosbaarste en waardevolste liefdesgeskenk wat die ganse skepping nog ooit gesien of ervaar het ... Homself. Ons Skeppergod het Homself daardie wreedaardige dag op ‘n genadelose klipkoppie vir alle mensegoed gegee. Op ‘n ruwe genadelose kruis het Hy - in wie alle mag en alle outoriteit gesetel is - Homself as ‘n kruikgeskenk vir die ganse mensdom gegee. ‘n Kruikgeskenk oorlopens toe vol met liefde.

Goddelike liefde wat deurweek, deurtrek en gedoop is in genade sonder voorwaarde asook vergifnis sonder voorwaarde, aanvaarding sonder voorwaarde en natuurlik die belangrikste van ... om te kan liefhê sonder voorwaarde. ‘n Goddelike liefde en lekker wat nooit ooit sal opraak as ons dit met ander deel nie. Presies soos die weduwee se kruik waarvan wyle Lukas Maree so passievol sing.

“Maar dis die goeters wat mens weggee wat jou rykmaak
En dis daarmee wat jy mense om jou raak
Want wat beteken liefde as niemand dit gebruik nie
Of ‘n blom se geur as niemand daaraan ruik nie
Ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik
Wat vol bly, selfs al sou sy dit gebruik
Ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik
En die liefde, soos die olie in sy buik”

1 Joh 4 vers 7 (Afr20) = “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

No comments:

Post a Comment