Wednesday, 16 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Gedagtes rondom reën

Besef ons werklik wat reën is?

Na 'n lang dor en droë winter in die Noord-Kaap, pak die onweerswolke saam. Dan blits die eerste weerligstraal na benede ... soos 'n sweepslag, en 'n paar oomblikke later volg die rammel van die donder. Die eerste groot druppels plons op die dorre aarde, wat dit gulsig en haastig verswelg. Nog meer reën ... dit stort emmersgewyse na benede. Die aarde word nat en die grond is deurweek.

Dit kletter op die sinkdakke en verkondig so die blye tyding. Die geute sukkel om die stroom water weg te voer. Spoedig word die bruin malende massa water in die strate omskep in rivierstrome -  die dreineringskanale kan kwalik bybly ...

Die bome, struike, plante, ja, selfs die huise is skoon gewas. Die storm bedaar geleidelik en die vars prentjie is onbeskryflik mooi. Die wolke trek stadig weg en skaam-skaam loer die sonstrale deur die wolke.  

Dan verskyn die pragtige reënboog teen die horison. Onwillekeurig dink jy hoe oupa en ouma vir jou as klein dogtertjie vertel het, dat as jy die reënboog kan vind, jy al die geluk van die wêreld sal hê. Jy glo dit, totdat jy groter is en besef geluk word nie deur die reënboog bepaal nie, maar deur innerlike vrede. 

Die aarde is skoongewas deur die reën. Die voëls hef 'n danklied aan en met die getjirp van die mossies in my ore, voel ek lus om saam te sing:
Reën, reën, lieflike reën
Val op die aarde, val om ons heen.  

[Dankie, aan 'n inwoner vir die jeugherinneringe.]

No comments:

Post a Comment