** 'n Man laat sy kat regmaak. Twee dae later kom sy buurman by hom en vra of hy gesien het hoe vreemd die kat ná sy operasie optree.
"Nee, wat doen hy?" wil die eienaar weet.
"Man, ek het op my stoep gesit en die hele ding dopgehou. Hy het eers van jou werf af oor die muur na die linkerkant van jou erf gespring. Hy was nie 'n minuut daar nie, toe spring hy terug, loop na die erf agter jou en spring ook daar oor die muur. Hy was weer nie 'n minuut weg nie, toe is hy terug, stap na die muur van die erf regs van jou en spring weer oor. Weer dieselfde storie. Toe doen hy boonop dieselfde met die drie erwe oorkant die straat. In nie een van die ses gevalle was jy meer as 'n minuut weg nie."
"O, dis maklik om te verklaar," sê die eienaar. "Hy het maar net sy afsprake vir die volgende paar nagte gaan kanselleer."
** Twee manne het saam ten duurste 'n resieshond aangeskaf. Hy het elke wedren verloor en hulle het toe besluit om hom een laaste kans te gee. Maar weer was hy laaste.
"Wat sal ons nou met die hond maak?" wou die een eienaar weet.
"Kom ons hardloop vir hom weg," antwoord die ander een.
** 'n Muis hardloop eendag vir die kat weg. Hy is onder 'n lysie in die muur in en sit daar in die donker en wag.
Ná 'n lang ruk hoor hy 'n hond buite blaf. Aha, dink die muis, die kat is seker nou weg.
Die muis stap toe uit sy skuilplek uit en daar vang die kat hom en vreet hom op.
Die les in die storie: Wees tweetalig.

No comments:
Post a Comment