Wat het ek geërf? Het ek enigiets geërf? Ek wonder!
My ma is oorlede toe ek net twee jaar oud was. Ek onthou niks, niks van haar nie. Ek is nou al baie ouer as wat sy was toe sy op 34 dood is.
O, ek hoor baie storietjies oor haar – my tannie Marie vertel hoe kwaai sy was as ‘n mens op ‘n bed sit: ‘n bed was glo vir slaap, en nie vir sit nie. Wel, dáárdie geit het ek darem nie geërf nie, maar ‘n algemene kwaaierigheid … ja, dalk!
My ousus vertel hoe opgewonde sy was oor die laatlammetjie (dis nou ek) en hoe sy opgedres het tydens haar swangerskap. Ek onthou hoe ek voor die groot spieel in my destydse spaarkamer gestaan het sodat die lig my van agter kan vang, en my rug hol gemaak het in my eerste “maternity” rok van Indiese sy, desperaat-haastig om swanger te lyk sodat ek kan opdres …
Ek hoor hoe sy ‘n stomp kombuismes aangebied het vir my twee bakleiende sussies, met die voorstel dat hulle, as hulle dan nou glad nie oor die weg kan kom nie, mekaar dan maar moet keelaf-sny. Dan onthou ek hoe ek mý twee stryende dogtertjies met hulle ruggies na mekaar toe in die bad laat sit het met ‘n kwaai verbod: “As julle nie mooi met mekaar kan praat nie, moet dan nie eens vir mekaar kyk nie!”
Die toon langs my kleintoontjie is gruwelik krom – gee my altyd moeilikheid as ek wil skoene koop. My oudste het dieselfde toonmoeilikheid. My pa se tone was reguit. So ek wonder …
My prominente of adellike (eintlik maar net groot!) neus kom van my pa af. Die vierkantige bruin geboortevlekkie op my bobeen ook, en ek blameer hom partykeer vir my ongeduldigheid. Maar ek glo my ma het ook vir my ietsie nagelaat – sy was ook lief vir lees en musiek, sê hulle.
Soos Prinses Diana en Marilyn Monroe bly sy altyd jonk en pragtig op die swart-en-wit foto’s wat ek van haar het. Ek dink … nee, ek sien beslis iets van haar in my én in my meisiekinders. Sy sou ‘n trotse ouma gewees het!
[Dankie, Hester vir die deel van hierdie kosbaarheid.]
Gaan lees meer van hierdie onthoustories HIER.
No comments:
Post a Comment