Iewers, êrens, Here, het die lewe elkeen van ons hierdie afgelope 2 jaar onderstebo gestamp. Ons masker kom nie net meer tot by ons mond nie, Here. Dit maak party dae sommer ons hele gesig toe. En ons hart. Want, ons harte het seergekry in hierdie tyd. Elkeen van ons se seerkry het 'n ander naam. Maar, ons trane, ons bang en ons onsekerwees is dieselfde.
Iewers, êrens was elkeen van ons deur die laaste tyd die slagoffer van iets wat so baie "unfair" was. 'n Werk wat weg is, siekte, goed agterlos en trek, plaasaanvalle, die dood van 'n geliefde ... En in ons harte skreeu dit uit dat alles so verskriklik "unfair" is, Here. In ons harte wonder ons of ons ooit oor hierdie berg gaan kom, die berg wat so swaar diep hier binne ons gaan lê het. Ja, Here. Die seerkry van hierdie lewe het ons hard getref!
En soos wat die tyd aanstap, begin ons die stukkies weer optel. En iewers langs die alleenpad verander ons in oorlewendes. Ek hou niks van die woord "oorlewende" nie, Here. Dit klink so effentjies. So al asof mens in 'n stormpyp beland het en die lewe jou iewers op 'n sypaadjie uitgespoeg het ... En daar oorleef jy maar.
In U oë verander hartseer en pyn U kinders in "Warriors". 'n "Warrior" is 'n vegter, 'n soldaat, iemand wat langs die pad geleer het hoe om op te staan, aan te gaan en weer te leef. Iemand wat die vaardighede aangeleer het om terug te baklei in die lewe se "unfair" oomblikke.
Wanneer ons so weerloos en magteloos op die lewe se sypaadjie lê, is dit U wat stil by ons kniel en ons ophelp. Dit is U wat ons vashou en troos, wanneer ons soos drenkelinge aan U vasklou. Dit is U wat dag na dag, oomblik vir oomblik, vir ons leer om weer die klein eenvoudige dingetjies te waardeer, om elke stukkie brood wat U vir ons neersit, raak te sien, en dankie te sê.
Here, dankie. Dankie vir U genade, want dit is vir my genoeg ...
Amen.
[Oorgeneem]
No comments:
Post a Comment