Sunday 12 June 2022

Klippekind

Ek is vanaand U Jakob-kind, Here.
U klippekind.
U deurmekaar-onseker- weghol-kind.
Jakob, daar in Genesis het mos geweet van klippaaie en klipplekke:
Die klippad van ‘n deurmekaar gesinslewe.
Die klippad van verkeerde keuses.
Die klippad van weghardloop ...

Ons, hier aan die anderkant van Genesis,
ken ook van klippaadjies, Here.
Verhoudings wat nie wil werk nie,
en waar ons die een klip na die ander gooi.
Die klippe van depressie, wat soos berge in ons pad kom lê.
Die harde, koue marmerseer wat die dood bring.
Die klippe van alleenwees en eensaam wees.

Die harde klippe van selfverwyt.
Klippe van verlang wat soms in rotse verander. 
Klippe van hospitale wat oorvol is,
‘n virus wat ons onderstebo hardloop ...
en besighede en dorpe wat stukkend gegooi word 
met klippe van politiek en geweld. 
Ons ken van klippe, Here.

Jakob het hulle ook geken.
En een nag, toe hy so met die klip onder sy kop lê en slaap,
het U stil by hom kom staan en sag vir hom gesê: 
"Ek is by jou, Jakob. Ek gaan jou nie in die steek laat nie."
Sommer net so.
U het geweet U klippekind kry swaar.
En dit was vir U so belangrik dat U kind moet weet dat U daar is.
Dat U nie weg is nie.
Nooit weggaan nie.

En toe Jakob wakker word, Here, het hy stom gefluister: 
"Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie ..." 
En toe het hy sy klip gevat, dit neergesit
en dit 'Bet-El' genoem - die plek waar God is.

Ons gaan so baie kere soos Jakob deur die lewe, Here.
So effentjies-effentjies probeer ons elke dag oorleef 
en dit maak tot by die volgende dag -
die klippe in ons pad steek ons voete stukkend
en maak ons harte huil.
En dan vergeet ons soms dat U,
aan wie die heelal behoort,
altyd by ons is.
Langs ons is.
Onder ons is.
Dat U ons toevou en omvou met U liefde.
Dat U elke klip op ons pad ken,
ook die klippe wat ons in ons harte gaan wegbêre.
Ons vergeet dat U ons oor ons klippepad dra.

Help my, Here ...
help my om my "kommerklippe" uit te haal
en dit neer te sit by U voete.
Help my om U stem te hoor,
U stem wat stil ook vir my kom sê:
“Ek is hier ... Ek is ook hier op jou klippepad.”

U gaan nie weg nie, Here.
U is altyd hier ... hier by my.
En omdat U hier by my is,
kan ek soos ‘n ribbok kaalvoet oor die klippe dans.
Ek dien U nie omdat ek wil hê U moet die klippe wegvat
en my pad mooi en gelyk maak nie.
Néé, ek dien U, want U langs-my-wees,
U hier-wees op my klippepad,
dit vir my genoeg, Here.
U vashou dra my wanneer die klippe te veel word.
U liefde help my om anderkant die klippe te kyk,
verder te kyk as dit wat hier voor my voete lê ...
want daar anderkant die klippepad,
sien ek hoe U opgewonde-bly vir my inwag.
Daar by die Plek waar daar nie klippe is nie, Here.
Daar waar ons altyd se altyd gaan bly wees.

Tot dan, Here ... help my asseblief om my klippe in die oë te kyk,
sonder om bang te wees of weg te hardloop.
Help my om by elke klip ‘n kruis te plant ...
‘n kruis wat my herinner dat U, Here, ook by hierdie klip is.
Dat U nooit sal weggaan of my alleen by die klip op my pad sal los nie.

Asseblief, Here ...

U Klippekind.

[Dankie, Anoniem, vir die treffende gebed wat jy met ons deel. 
Klik HIER vir die bron.]

No comments:

Post a Comment