Wednesday 15 June 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Sawwe ore

Groete en Vrede!!! 

Swartkopdam se vroeg wintersonnetjie het al agter ‘n hogere sandduin slaapplek opgesoek toe ons by hul netjiese sinkhuisie aanklop. Amper so met die val van die laaste geklop word die deur oopgemaak en so word ons (dit is nou ek en die Mooiste Mooi) binnegenooi. Al is ons ietwat beskut teen die ergste koue, vryf ek nogtans my hande wriemelend oor mekaar om die ergste byt van die koue teen te werk. 

Ons was al vantevore hier. Hier by dieselfde mense, met dieselfde meublement in dieselfde huisie. Niks het verander nie. Alles is steeds dieselfde. Skielik wonder ek wat hierdie besoek alles gaan inhou en of die huismense weer (net soos die vorige keer) met sukkel en skaamte ons Skeppergod se teenwoordigheid gaan opsoek.  

‘n Rukkie later klop iemand saggies aan die sinkhuisie se enigste deur. Onmiddellik steek ons gesprek vas soos ‘n rooijakkals wat ‘n jaghond ruik. Touks staan stadig op en maak die deur versigtig oop om die ongenooide oorstaner ook in te nooi. Eddie – wat kort voor laaste week hier op Swartkopdam ingewaai het – se handdruk is ferm. Dit vertel van ‘n vol lewe. ‘n Lewe deurspek met kennis en ervaring. 

Amper half onverwags vra die Mooiste Mooi hom of hy meer as net ‘n kerkloper is. Sy wil weet of hy ‘n gelowige kerkloper is. Opeens sit Eddie so bietjie vorentoe, sy skouerknoppe is effens agteroor getrek en sy kop en nek staan penorent soos ’n regopstaan geelslang. Hierdie man is voorwaar lus vir baklei want hy bekyk elkeen van ons met swartbruin oë wat vuur spuug.  

Raak rustig, kyk hom vol in die oog. Hy gaan nou-nou sy hart uitpak en dan moet jy met sawwe ore luister. Onthou, om met sawwe ore te luister beteken veel meer as om komplimente vir ander te fluister” beduie die Veilige Gees saggies. Met hierdie woorde wat in my binneste-binne draal, besef ek dat Eddie – net soos alle ander mensegoed - bloot net sy vernielde en brose binnevoering beskerm. ‘n Klipkoue binnevoering wat onseremonieël verniel en gekneus is deur genadelose gelowiges en liefdelose kerklopers. 

Sekondes voel lateraan soos ure en amper half onverwags begin Eddie vertel van ‘n binnevoering deurtrek met teleurstelling, haat en verwyt. Hoe langer hy praat, hoe harder en driftiger weerklink sy stem. Hierdie uitbarsting het die huismense soos ‘n uitbreekskaap heel onkant gevang. Hulle sit witoog terwyl verdwasing en verbasing duidelik op hulle gesigte blink. Kort na Eddie sy derde salvo afgevuur het, begin die huismense ook stadigaan hart uitpak. Hulle vertel van die behendigheid waarmee kerklopers en gelowiges lieg, bedrieg en selfs hoe hul vlymskerp tonge iemand se toekoms en saligheid bepaal. 

Heelwat later, nadat hulle  binnevoerings leeg gepraat is, sit Eddie en die huismense terug in hulle stoele. Dit is stil in die sinkhuisie. Goddelik stil ... heilig stil. Selfs die murgsuig-windjie wat vroegaand gewaai het, het sy asem opgehou. Eddie het lateraan gegroet met “Ek gaan nou lê” en my hand saggies gedruk. “Dankie, dat pastoorgoed en mevrou met sawwe ore geluister het.” 

Met ons vingers inmekaar gevleg en diep in my baadjiesak weggesteek, stap ek en die Mooiste Mooi daardie donkernag na die Genadewa toe. Ons moet spore maak huis se kant toe. Eddie se groetwoorde eggo steeds tussen my ore en ek hoor weer die Veilige Gees se vroegaand woorde. En ek weet. Ek weet ek wil met sawwe ore na ander se binnevoerings luister, want sawwe ore is ‘n Jesuslig in ander se duister. 

Job 11 vers 17 (Afr 83) = "Jou lewe sal meer lig hê as die helder middag, jou donker sal lig word soos die môre.” 

Sandkorrel baie seëninge. 

Los jou 👣 as jy wil by: 
Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549 

[Dankie, Valerie, dat jy altyd aan ons dink en hierdie waarheid met ons deel. Ons het almal nodig om met sawwe ore te luister. Besoek gerus Divine Life Bediening]  

No comments:

Post a Comment