Die wintermaande se nagte is gewoonlik langer as die res van die jaar s’n. Maar eergisteraand (alhoewel Desembermaand mos hoogsomer is) het kompleet soos winternag gevoel. Eergisteraand se nag was lank - baie lank en ek het sleg geslaap. Ek is moeg ... diep moeg en my gemoed is erg onstuimig. Alles aan my en alles in my is moeg en dit maak my menswees op. Die werkslas en verantwoordelikhede van ons sendingbediening hier in die vergeetkant van die land, was die afgelope klompie maande net te veel vir my.
Lank voor die son agter die kim uit sy bloedbad kruip, sit ek buite op die kuierbankie onder die peperbome langs die Boerekerk se pastorie. Met my oranje koffiebeker in die hand, wag ek vir die dag om te breek - hopelik ‘n dag vol belofte, ‘n dag vol verwagting en ‘n dag vol lewenskrag.
“Ek wag jou by die baken bo-op Ikkie se duin” kom dit sag van die Veilige Gees.
Die verlate grondpad krul soos ‘n krullende vaalbruin slang oor die verlate Kalahari-vlak uit. Ek adem warm oggendlug diep in wat by die Genadewa se venster inwaai. Rustig wieg die ou strydros oor die tweespoorpaadjie net om staning te maak aan die voet van die breë-rug sandduin waarop die baken baie jare gelede staan gemaak is. Stadig klim ek uit en stap maar rus-rus tot bo-op Ikkie se duin waar die baken is.
Die Kalahari se stilte is amper heilig en ek gaan sit aan die skadukant van die baken se voetstuk. Terselfdertyd versluier groot gryserige wolke die son. “Ek is hier, Here, ek is uiteindelik hier,” sê ek saggies nadat ek my in die losserige louwarm sand ingewurm het: “Hier waar U vir my wag.” Dit was die laaste beeld wat ek gesien het alvorens ek my oë styf toegemaak het.
Met hierdie amperse heilige en goddelike stilte rondom my, forseer ek myself om stadig en diep asem te haal. Dit skep geleentheid om die aroma van die Kalahari tot diep in jou longe te kan proe. Tot daar waar dit saak maak. Die spesifieke laatoggend se stofreuk was iets besonders. Iets wat ek nog nie van tevore geruik het nie - 'n eiesoortige aroma deurdrenk met ‘n sagte ondertoon van belofte en lewe. “Ek is ook hier,” kom dit sag van die Veilige Gees net voordat ek ‘n ritseling hoor in die kol boesmangras wat al te welig so effens skuins voor my groei.
Ek het die erdman nie raak gesien nie. Hy smelt so goed saam met die takkies van die droë boesmangras dat hy amper onsigbaar is. Hierdie waaierstert meerkat sit penorent en hou my met sy donkerswart kraalogies fyn dop. Met sy snorbaardjie wat op en af vibreer en voorpootjies styf teen mekaar, lyk dit kompleet asof hy bid. Vol bravade skuif hy voetjie vir voetjie nader. Al nader en nader sonder om die beskutting van die welige kol boesmangras te verlaat.
'n Begeerte wel in my op om met hierdie erdman te praat. Ek móét hom vertel van die onstuimigheid in my gemoed. Daar is net heel te veel opgekropte woorde en diep gestoorde gedagtes wat moet uit. En ek wil hom vertel dat ek moeg is – tot in my murg moeg is. Met ‘n gestotter en gehakkel begin ek saggies praat. Soos net Vader se erdman kan, draai hy eers sy koppie skeef na links en toe na regs. Al asof hy my persoonlike sielefluisteraar is, luister hy aandagtig en belangstellend.
Woorde en emosies vloei lateraan soos ‘n rivier in vloed oor my lippe en wange. Ek lag en huil en praat deurmekaar. Dit voel asof ek nooit gaan ophou nie want ek hou net aan en aan en aan. Nodeloos om te sê, drink Vader se erdman elke woord en elke emosie dorstig in. ‘n Rukkie later en die storm in my gemoed is uitgewoed en ek is leeg – dolleeg. Uitgeput maak ek my oë toe en verdwaal in die heilige stilte rondom die baken bo-op Ikkie se duin.
‘n Diepe slaap omvou my terwyl die Skepper van hemelgoed en stofaarde my leë en dorre hart drupsgewys vul en verkwik. Eers vul hy my met druppels van belofte, daarna hoop en heel laaste met druppels van moed. Heelwat later maak ek my oë oop en alles lyk skielik anders. Opeens is die lug blouer, die sand rooier en die welige bos boesmangras wat effens skuins voor my groei, is groener.
En amper onsigbaar vir my oog, verklap klein erdmanspoortjies in ‘n welige bos boesmangras dat Hy steeds troos en help en versterk en ondersteun en dat Hy steeds in beheer is.
Jes. 41 vers 10 (Afr 20) = “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun jou met my seëvierende regterhand.”
Sandkorrel baie seëninge.
Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.
[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Ons waardeer dit. Indien jy kan en betrokke wil raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]
[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Ons waardeer dit. Indien jy kan en betrokke wil raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]
No comments:
Post a Comment