Thursday 6 April 2023

Daar is 'n verskil tussen ouer word en oud wees

Mense erken maklik dat hulle ouer wórd, maar min sê: "Ek is nou oud." 

Wel, ek wórd ook nou ouer. Gesondheidgewys kan ek nie kla nie - al my parte en onderdele is nog die oorspronklikes waarmee ek gebore is. Tot nou toe het niks van my masjinerie ge-"seize" nie, selfs my mangels is nog in plek! Maar, ek kan hoor van my parte kort ghries ... ek hoor 'n paar klapgeluide as ek soggens aan die beweeg kom. My vonkproppe vonk ook nie meer lekker nie - daarvoor sukkel ek te veel om in die oggend uit die bed te kom.

Ek sweer my bene groei nog, want dit word vir my al moeiliker om my voete by te kom, om my toonnaels te knip ... Ek trek deesdae my bene so om die beurt op tot teen my bors om die naels te kan knip, maar dis vrek ongemaklik. Ek raak sommer kortasem! Ek strek deesdae vroegoggend om my beweeglikheid te behou, en ek dink regtig dit werk, maar die geluide wat ek maak, kan as klankbaan vir "Jurassic Park" gebruik word. 

As iemand my skelm moes dophou, sal hulle seker dink ek drink vreeslik! Ek sukkel mos so met die duiseligheid as ek vinnig opstaan. Ek mik vir die kombuisdeur, maar loop 'n hengse draai deur die sitkamer om daar uit te kom. Ek maak nou maar 'n speletjie daarvan, deur te kyk watter vuil skottelgoed ek op dié manier bymekaar kan maak, voor ek met my hande op my knieë moet gaan staan. 

Ouer mense het snaakse gewoontes - let wel, ek sê: "Ouer mense", want niemand is klaar oud nie. Ek het hulle seker ook! My seun sal sekerlik daarvan kan getuig, maar ek is nie van veel bewus nie. Ek praat met myself, dit weet ek. Ek praat ook met my plantjies, en met die lemoenduifie wat ek elke dag voer. Verder het ek nogal sekere roetines wat ek slaafs volg, veral my vroegoggendroetine is ingeprent in my skedule. En ja, ek sê elke aand vir Elvis nag, daar waar 'n baie mooi skildery van hom, halfpad op met ons trappe, hang ...

So, daar het julle dit. Daar is lankal nie meer 'n huppel in my stap nie, maar daar is 'n irriterende 'getjierie' in my kierie ... 

[Dankie,  Valerie, vir hierdie tong-in-die-kies-bydrae!]

No comments:

Post a Comment