Saturday 15 April 2023

Saterdaglagmedisyne: Die groen ding

Met die betaalslag in die supermark, het die arrogante klein japsnoet, wat soos 'n kaketoe in 'n disco lyk, my te vertelle dat ek my eie sakkies moet bring, want om heeltyd sakkies te koop, is heel omgewingsonvriendelik. "Oom moet die Groen Ding doen."

Ek vra toe maar onverskoning en my verweer was dat ons nie eintlik die Groen Ding gedoen het in my jare nie.

Sy sê toe, so onder haar pers kuif uit; "Dis juis ons probleem - julle ouer geslag het nie genoeg omgegee vir die omgewing om dit vir ons nageslag te bewaar nie."

"Ja," sê ek; "In die ou dae het ons melkbottels, koeldrankbottels en bierbottels ingegee by die winkel. Hierdie bottels is na die aanleg teruggestuur, gewas, gesteriliseer en weer gebruik ... hierdie bottels is oor en oor gebruik. So, eintlik is hulle herwin. Ons het geen plastiekbottels gehad nie. Maar jy is reg, ons het nie die groen ding gehad nie.

Ons fish & chips is in koerantpapier toegedraai, so is die koerante tog ook herwin. Ons inkopies is in bruin papiersakke gesit. Behalwe dat ons dit vir huishoudelike afvalsakke gebruik het, het ons ook ons skoolboeke daarmee oorgetrek. Skryfblokke met koerantpapier en handboeke met die bruin sakke. So het ons seker gemaak dat die volgende standerd steeds netjiese handboeke het ... Maar jy is reg, ons het nie die groen ding gehad nie.

Ons het trappe geklim, want ons het nie roltrappe of hysbakke in elke winkelsentrum gehad nie.

Ons het winkel toe geloop en nie elke keer in 'n 300-perdekrag-vuurwa gespring om twee blokke winkel toe te ry nie. Maar jy is reg - ons het nie die groen ding gedoen in my dae nie.

Ons het ons babas se doeke met die hand gewas, want ons het nie weggooibare doeke gehad nie. Ons het ons wasgoed op die draad in die son drooggemaak en nie in 'n energievretende tuimeldroër wat met 240V werk nie. Die son en wind het ons klere drooggemaak.

Kinders het hand-me-down-klere van hul broers en susters gedra. Maar jy is reg, ons het nie die groen ding gedoen nie.

In my dae het ons nie TV gehad nie en miskien het ons een radio per huis gehad. Later het ons net een TV en een radio in die huis gehad. Nie een in elke kamer nie. En die TV se skerm was so groot soos n sakdoek, nie so groot soos Gauteng nie! Ons het viniel langspeelplate geluister en 8-/16mm films gekyk. Die het ons vir 70 jaar gehou en dan is dit van geslag na geslag oorgedra. Dit het nie die hele huis vol gelê soos die CD's en DVD's van vandag wat julle vir next to nothing koop en dan beland dit op die ashope nie.

In die kombuis het ons geroer en gemeng met die hand, want ons het nie die elektriese masjiene gehad wat julle selfs vandag gebruik om n blik oop te maak nie. As ons iets in die pos wou wegstuur wat kon breek, het ons dit met koerantpapier verpak, nie met polistireen en plastiek bubble wrap nie!

Ons het nie die gras gesny deur 'n 140cc-masjien aan die gang te sit met petrol of 'n 1800W elektriese motor nie, ons het 'n meganiese grassnyer gestoot met mensekrag. Ons het geoefen deur hard te werk, fiets te ry en in die aande te stap, so het ons nie nodig gehad om te gym en op treadmills en derglike dinge rond te draf wat elektrisiteit verbruik nie. Maar jy is reg, ons het nie die groen ding gedoen nie.

Ons het met ons hand vanuit 'n fontein gedrink wanneer ons dors is en nie 'n plastiese of  polistireen-bekertjie gebruik of plastiese koeldrankbottels die hele wêreld vol rondgegooi nie.

Ons het ons penne met ink hervul instede daarvan om elke keer 'n nuwe plastiese pen te koop. Ons het lemmetjies in ons skeermesse gebruik wat vervang kon word instede daarvan om die hele plastiese ding elke keer weg te gooi. Maar ons het nie die groen ding gedoen nie.

Ons het trams, treine en busse gehaal en die kinders het fietse skool toe gery instede daarvan om hul ma in 'n  24/7 taxidiens met hul R500 000 sedan te verander. Jy kon 'n hele groot herehuis koop teen daardie prys.

Ons het een elektriese kragprop per vertrek gehad - nie 'n hele rits proppe om 'n dosyn apparate te akkommodeer nie.

Ons het nie 'n gerekenariseerde apparaat nodig gehad om 'n sein te ontvang wat 23000 kilometer vanuit die ruimte gestuur word om ons te vertel waar die naaste Burger King of Pizza Hut is nie.

Maar is dit nie hartseer hoe die huidige generasie ons "ou mense" blameer en as morsjorse uitkryt omdat ons nie die groen ding gehad het nie?

Hierdie is my opinie as 'n "ou mens" en ek hoop die jong groen generasie wat 'n les nodig het in omgewingsbewaring, lees hierdie en deel dit met die ander jongeres wat die groen ding doen. 

No comments:

Post a Comment