Tuesday 7 March 2023

Dinsdag-denke: Die koei en sy gewete


In Noord-Korea, het Chung Ju Yung (toe 17 jaar oud) een van sy pa se koeie verkoop, die geld gesteel en na Suid-Korea gevlug.

Hy het 'n besigheid begin, naamlik HYUNDAI, Suid-Korea se grootste konglomeraat, met meer as 50 maatskappye, wat alles van karre en rekenaarskyfies tot skepe en staal vervaardig het.

Chung het gesê dat hy in Suid-Korea "sy hele lewe geleef het met die opregtheid en ywer van 'n koei". Die koei wat hy van sy pa gesteel het, het egter altyd op sy gewete gelê. Alhoewel sy pa gesterf het, het hy steeds bly wonder hoe hy kan opmaak vir die stelery.

Noord-Korea het op daardie stadium 'n verskriklike hongersnood ervaar, maar 'n wrede Kommunistiese regering is in beheer. Die grens tussen Suid- en Noord-Korea is die strengste ter wêreld bewaak, met byna twee miljoen troepe aan beide kante.
Selfs die vorige predsident van die VSA, Jimmy Carter, moes Noord-Korea via Beijing binnegaan toe hy gereis het om die gewese president van Noord-Korea te ontmoet.

Chung Ju Yung, 82, die stigter van die reuse Hyundai-groep, was die eerste Suid-Koreaanse burger wat toegelaat is om die grens na Noord-Korea oor te steek, met geen regeringsamptenare wat hom vergesel het nie. Suid-Korea se rykste man is toegelaat om 500 beeste op vragmotors in Noord-Korea in te neem om die verhongerde mense te help.

"Ek keer nou terug om die skuld te vergoed wat ek my pa aangedoen het," het hy gesê. "Ek hoop hierdie besoek sal 'n hoeksteen van vrede en versoening tussen ons twee strydende Koreaanse nasies lê."

[Japansending: Januarie/Februarie 2012]

No comments:

Post a Comment