Sunday 5 March 2023

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Sanna met die hart wat pronk

Groete en Vrede!!!

So met die laaste stukkie geloop in die voetpaadjie na Sanna se plekkie toe, besef ek opnuut waarom soveel voorwêreld mensegoed beduie dat hierdie deel van die Kalahari hulle se hartsplek is. Hulle reken hier kan meer as net jou dink rondloop - selfs jou menswees ook. Veral as jy dapper genoeg is om met sonop of sonsak saam, jou oë stadigaan te laat wandel tot daar waar die verste sien ophou.

Ek en die Mooiste Mooi is moeg vandag. Diep moeg. Selfs die murg van ons gebeendere is moeg. Met ‘n goudkleurige sonsak wat die westelike kim omsoom, wil ons veel eerder omdraai en langbeen gaan sit by die Kuierplek op die vlak. Nie een van ons het vandag enigsins lus om by Sanna te gaan oorstaan nie, maar ons weet ons moet. 

‘n Skril gelag op die winkelstoep ruk my binneste terug tot die rou werklikheid van menswees hier in die Kalahari. So onthou ek weer vele kere wat Sanna hier op dieselfde winkelstoep haarself oorgegee het aan die benewelde en verslawende wêreld van te veel soetwyn. 

Sanna - vanweë vroeër jare se vreeslike losbandige leefstyl - is deesdae bloot net ‘n stukkie asem. Sy is spreekwoordelik vasgevang op haar geroeste enkelbed wat in ‘n piepklein een vertrek sinkhuisie op klipperige grond staan. Die voormalige voordanser wat meer as die murg van ‘n partytjie was, is deesdae heeltemal uitgelewer aan ander mensegoed se genade. Sanna se lewensvlam is byna geblus want sy kan niks meer vir haarself doen nie ... sy kan skaars praat, skaars eet en kan glad nie meer loop nie.   

Ons was nog so ‘n entjie van Sanna se plekkie af toe haar broer (wat ook ‘n losse leefstyl het en ‘n klipgooi van Sanna af bly) my nader wink. Hy het gesien ons loop in hulle rigting nou wou hy opslag gesels. Later daardie selfde aand, het ek verstaan waarom die Mooiste Mooi alleen by Sanna oorgestaan het. 

Met die enigste deur van die een vertrek sinkhuisie wat wawyd oopstaan, het die Mooiste Mooi sommer half ongenooid ingestap en gegroet.  Daarna het die twee vrouens - net soos vroue kan - in vrouetaal met mekaar begin gesels. Eers oor ditjies en datjies en toe oor koeitjies en kalfies en uiteindelik oor die moeiliker sake van die lewe. Dit is tóé dat daar hoofsaaklik net oor Sanna se enigste meisiemens gepraat is. ‘n Meisiemens van amper 10 jaar oud wat die afgelope maand of twee, elke aand moeite doen om by haar ma se doodsbed te kom oorstaan. Dan word daar met kinderlike opregtheid ‘n teksversie gelees en ‘n kinderlike gebed gebid. En net voor die nag se donkerte hierdie meisiemens finaal omvou voor sy loop, word Sanna gegroet met “Hoor mooi my ma, hoor mooi. Ma-goed moet net vertrou. Alles sal regkom my ma ... jy moet net vir Jesus vertrou.” Groetwoorde wat elke nag lank in Sanna se ore refrein. 

Tyd spoed soos ‘n reisiesperd verby. ‘n Uur of wat later sukkel Sanna met haar benerige hande om die dankbaarheid uit haar natblink oë te vee toe die Mooiste Mooi haar groet. Dankbaarheid omrede die Kêrelkind van God vanaand ook haar hart soos ‘n springbok laat pronk. Sanna het Hom gevind. Sy het Jesus gevind en Hom begin vertrou - net soos haar meisiemens gevra het.

En deesdae ... deesdae vertel sy vir almal wat kom oë wys van haar hart wat pronk, want Sanna besef elke dag hoe waardevol en kosbaar sy regtig vir Hom is. Dit is nou ongeag al haar foute en al haar tekortkominge wat tog so duidelik in haar vermaarde liggaampie sigbaar is. As ontvanger van onverdiende genade besef Sanna dat niks hiervan moontlik sou wees as dit nie vir Hom was nie.   

Jer 17 vers 7 (Afr 20) = "Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is."

Sandkorrel baie seëninge. 

Los jou 👣 as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549 

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Ons waardeer dit.]

No comments:

Post a Comment