Monday 27 March 2023

Vandag se internetgebed vir jou

Here, daar is geraas in my hart.
Al word dit soms stil rondom my,
is dit of die geraas binne my net nie stil word nie.
As ek besig is, dan pla dit my nie so erg nie,
dan is dit maar soos donderweer in die verte.
Maar as dit stil word rondom my,
daar waar ek in die nag wakker lê en peins,
dan word hierdie veraf gedreun ‘n skrikwekkende storm.
En die klank is nie die majestueuse klank van ‘n simfonie
wat opwerk tot ‘n magtige crescendo nie, nee,
dis soos die oorverdowende gekap van potte en panne.
Wat ‘n lawaai.
En ek voel magteloos om dit stil te maak hier binne-in my.
Here Jesus, U wat eens die wind en die golwe aangespreek het
en dit het stil geword, maak dit stil in my.
Spreek net ‘n woord … en u vrede sal in my hart kom heers.
Ek wag … stil … geduldig.
Tot ek u liefdevolle opdrag hoor en as u vir my sê:
wees stil en weet, ek is die Heer.

(Outeur Richard Foster)

No comments:

Post a Comment