Liefdesbrief aan Suid-Afrika van 'n luisteraar ... (geplaas deur Amore Bekker van RSG)
Suid-Afrika, ek sit vanoggend langs jou hospitaalbed terwyl my trane vlak lê ... Ek byt op my tande dat die sluise van my oë nie moet oopgaan nie. Ek probeer om nie vir die wêreld te wys presies hóe seer my hart is nie. Ek klou krampagtig vas aan jou (nou nog) warm hand wat voel soos ‘n soel Karoonag. Waar jy met toe oë lê, wil ek jou vertel van die mooiste tye daar op die Letaba-brug, hoe die koue seewater my kleintyd op Bloubergstrand gekielie het as die son oor Tafelberg ondergaan, daar in jou moederstad.
Suid-Afrika, maak asb. jou oë oop, ons wíl jou nie verloor nie. Moenie dat hierdie virus jou onderkry nie ... Jou koors is hoog, ek kan sien jy kry swaar.
Waar kan ek die dokter gaan roep, die medikasie het tans geen effek nie. Jou mense is moedeloos, hulle is bang ...
Suid-Afrika, waar ek hier neffens jou sit, sien ek hoe moeilik jy asemhaal. Ek wens vir Struisbaai se wind, net om jou weer te laat lag soos ‘n kind.
Suid-Afrika, ek bid vir jou, klou vas aan hierdie lewe asseblief.
Ek wil ‘n nat lappie op jou voorkop sit, enige iets om jou te verfris soos die see se sproei op Seepunt se promenade.
Ek is KWAAD dat jy hierso beland het, jou geld is gesteel, jou mense vermoor hulle geliefdes. Ek kan verstaan dat dit nou sy tol eis.
Suid-Afrika, ek soebat jou. Klou vas aan hierdie lewe. Moenie nóu moed opgee nie. Dink aan Roete 62, die masjestueuse Drakensberge. Jy is mos al baie heuwels oor, ek wil só graag weer hê dat jy ‘n visarend hoor!
Ek wil weer saam met jou melktert eet, om ‘n kampvuur die hitte geniet.
Kom ek maak jou toe met hierdie kombers van hoop, net soos jy my altyd omvou het met ‘n gevoel dat ek aan jou behoort.
Byt vas Suid-Afrika, ons sal by jou staan met geloof, hoop en ‘n reënboog vol liefde.
Karina van die Kaap.
No comments:
Post a Comment