Monday 14 November 2022

'n Biblioteek van kennis, ervaring en wysheid

Saam met elke bejaarde wat sterf, gaan daar 'n biblioteek dood.
'n Biblioteek van kennis, ervaring en wysheid.

Hoe is dit dat TWEE ouers (soms EEN) na 'n klomp kinders kon kyk,
maar dat 'n klomp kinders nie na twee ouers kan kyk nie?

Besef ons dat ons met ongeduld, geïrriteerdheid en frustrasie
ons eie ou dag miskyk.
Ons sal ook daar kom.
Ons sal dalk ook ons ou, gebruikte plastiesakke saamneem om 'n belangrike geldjie te spaar.

Iemand sal op 'n dag ook agter ons in die ry staan terwyl ons met ons koepons wil betaal.
So, hier is my hart.
Ek eer die bejaardes wat steeds probeer.
Ek besef daar stap 'n storie voor my - 'n mens wat ook maar net afhanklik is.
Iemand wat jare lank 'n land help bou het,
en dalk nou aan die agterspeen suig met hulle karige pensioen.
Mans en vroue wat eens trotse voorlopers was,
en nou bakhand moet staan en sien hoe 'n jonger generasie nie altyd respek het nie.
Kan ons hierdie week weer werk aan ons deernis, geduld
en sommer net waardering vir die oom wat dalk stadig voor ons ry,
die bejaarde tannie wat in jou pad staan as jy haastig is,
die mens met die koepon of die klein geldjie in die hand,
wat langer vat om te betaal as jy met jou goue kredietkaart.
Kan ons dalk kies om só 'n mens se kruideniers te betaal as die Here
ons geseën het met méér.
Kan ons weer besef dat wie ookal ons is,
wat ookal ons het 
- dit alles is net genade!

No comments:

Post a Comment