Thursday 4 January 2018

Ons Huis se ouderling met 'n roeping!

DIE BESTUUR VAN DIE MSB
Voor: Mnre. PS Venter (sekretaris), AJ van
der Merwe (voorsitter), JP Havenga (o/voorsitter)
Agter: Ds. JH Siebert, FR Maré (tesourier)
Bron: Dutoitspan Kimberley
Mnr. JP Havenga of beter bekend as oom Hawie van Freemanplek, was definitief die aktiefste en getrouste ouderling in die bestaan van die NG Gemeente, Dutoitspan Kimberley. Hy was die ouetehuis, wat binne die gemeente se grense val, se ouderling... tot hulle groot voordeel.

Oom Hawie was iemand met 'n passie vir dit wat hy gedoen het en iemand wat nie te bang was om die ekstra myl te loop nie.

Hy was reeds in ds. WJ Steenkamp se tyd (https://dutoitspan.blogspot.co.za/p/predikante.html) in die vroeë sestigerjare, hulle ouderling.

Wat het oom Hawie so besonders gemaak?

Hy was elke dag dáár - hy het dienste vir die inwoners gehou, bidure, aandgodsdiens, saam met hulle tee gedrink, soms sommer vir aandete gebly, miskien die nuus saam met hulle gekyk, maar hy het altyd die belange van die inwoners op sy hart gedra. Elke Sondag in die konsistorie het hy verslag gedoen en was die predikant en die kerkraad op hoogte van elke sieke, elkeen wat 'n familielid aan die dood moes afstaan, vreugdes van kinders en kleinkinders, maar hulle het ook geweet wie 'n behoefte aan 'n predikantsbesoek gehad het.

Hy het altyd ouetehuis toe gestap en praatjies langs die pad met mense en gemeentelede aangeknoop. Nooit weer was daar 'n ouderling van sy kaliber nie. Met sy afsterwe het die ouetehuis hulle ambassadeur verloor.  

Elke aftree-oord het eintlik 'n ouderling soos oom Hawie nodig!!

[Inligting: Mnr. Schalk Pienaar - kassier van gemeente vanaf 1961 - 2016]

No comments:

Post a Comment