Wednesday 10 January 2018

Vlugfiks?

Ken jy daardie alombekende vlugposisie? Dit is wanneer jy heeltyd oor jou skouers kyk terwyl jy weghardloop van die lewe af. Is jy al so gewoond daaraan om te probeer ontsnap van stukkende verhoudings, of van al die seer en sleg van die lewe dat jy dit outomaties elke dag doen? Wel, hier's goeie nuus as die lewe deesdae net jou rugkant en jou vlugkant sien: jy kan nooit vir Christus weghardloop nie. Jy hardloop elke keer in Hom vas. Nee, Hy is nie net agter jou nie, maar ook voor jou. O ja, en langs jou, bokant jou, onder jou en deur Sy Gees in jou.

As jy tans die vlugposisie doen, dan kan jy die Here veral op een plek verwag — reg voor jou! Dit is presies waar Hy vandag is — hier reg voor jou met uitgestrekte arms. Elke slag en elke dag wag Hy jou van voor af in. Hy wil jou wonde verbind en 'n feesmaal saam met jou hou. Soos die pa van die verlore seun daar in Lukas 15 wil Hy sy genade ruimskoots met jou deel. Maak net jou oë oop en sien Christus voor jou op die pad raak.

Vrede
Stephan Joubert

[eKerk sal altyd gratis bly, maar ons het jou volgehoue ondersteuning nodig om ons webblaaie, noodprogramme en nuusbriewe te laat dryf.]

No comments:

Post a Comment