Tuesday 9 January 2018

Twee geslagte was al inwoners...

Ronell en Alda Pienaar wat ook graag hoede van
Miem Jacobs gedra het.
Baie dekades terug was mnr. en mev. Van der Bank inwoners van Ons Huis. Hulle was van Douglas, waar mnr. Van der Bank 'n plaasbestuurder was. Hulle een dogter, Miem Jacobs, was baie jare later ook 'n inwoner van Ons Huis.

Miem Jacobs het al die jare in Freemanplek 3A gebly en almal in Kimberley het die kort, klein kunstige vroutjie geken. Sy was kreatief en die kunstalent het sommer in sulke dik strome deur haar are geloop. Sy kon in verskeie mediums werk. Dit was net deel van wie sy was.

Sy het in die sestiger en sewentiger jare o.a. hoede gemaak. In daardie jare het almal hoede kerk toe gedra, biduur toe en na spesiale geleenthede. Sy het nie net hoede vir belangrike geleenthede gemaak nie, sy het ook hoede gemaak wat by jou persoonlikheid en jou hartsbegeertes pas.

Dit was nie ongewoon vir mense om met hulle rok of pakkie by haar aan te kom en dan moes sy 'n unieke hoed ontwerp om die uitrusting af te rond nie. Mense wat nie van winkelhoede gehou het nie, kon verseker wees dat dit wat jy gekry het, is dit wat jy graag wou hê. 

Sy het ook gereeld kursusse in hoedemakery aangebied, wat baie gewild was.

[Inligting: Mnr. Schalk Pienaar - kassier van gemeente vanaf 1961 - 2016]

No comments:

Post a Comment