Monday 25 July 2022

Ons Huis - agtergrond

Ons Huis
 is die breinkind van die ACVV-tak in Beaconsfield o.l.v. die destydse presidente, mev. N Powell. Hulle was slegs 'n handjievol lede, maar met ongekende ywer, het hulle die besef dat daar 'n dringende behoefte aan 'n tehuis vir bejaardes is, 'n werklikheid gemaak.

Die deure van Ons Huis, wat op die hoek van Rosestraat en Dyerplek geleë was, word in 1943 oopgesluit. Dutoitspan Kerk was baie nou betrokke by die ouetehuis wat op daardie stadium regoor die kerk geleë was. Die gebou het egter spoedig te klein geword en in 1957 het die inwoners na die gebou in Ariadnelaan verhuis. Volgens inligting was hierdie tehuis die heel eerste van sy soort wat deur bemiddeling van die ACVV tot stand gekom het met die finansiële steun van Departement Volkswelsyn en Pensioene.

Die waglys het bly groei, sodat daar vroeg in die sestigerjare weer 'n vertoë gerig moes word om uit te brei. Hierdie uitbreidings is in 1966 voltooi, Nog later is die vleuel vir die verswakte bejaardes aangebou.

Die ACVV is 'n nie-winsgewende organisasie wat o.a. dienste lewer aan ouer persone. Ten einde volhoubaarheid te verseker is hulle hoofsaaklik afhanklik van goedgunstige donasies. Verskillende kerke, besighede en individue in Kimberley en omstreke is die rede dat Ons Huis se deure ten spyte van bitter moeilike ekonomiese tye, nog oop kan bly. Langs hierdie weg wil die ACVV Ons Huis hulle opregte dank en waardering uitspreek. Dis hierdie donateurs wat die finansiële las van die tehuis ligter maak.

Ons Huis skenk aandag aan die versorging van ouer persone, asook die versorgingsbehoeftes van mense wat leef met Alzheimers en Dementia. 

Ons Huis se gekwalifiseerde personeel is 24 uur beskikbaar om hulp te verleen met daaglikse behoeftes en tydens die Covid-19-tyd is die ekstra myl geloop. Hulle eerste prioriteit is ons inwoners en hul behoeftes. Hulle bied sekuriteit, hoop, lewenskwaliteit en ‘n menswaardigheid aan elke inwoner. 'n Inhuis-biblioteek en -haarsalon is van die geriewe wat beskikbaar is. 

Ons Huis is bekend in die Noord-Kaap en volgende jaar vier dié instansie sy 80ste jaar van diens aan die gemeenskap. In mensjare is dit reeds 'n gevorderde ouderdom, maar saam met die ouderdomspyne, (dit sluit ook die groeipyne in die beginjare in), het wysheid, insig en kennis van die digitale era ook gegroei.

[Klik HIER om verder te lees.]

No comments:

Post a Comment