Saturday 30 July 2022

Die waarde van goeie vriende

"Ek het nooit op 'n bank gesit en met my Pa gesels nie ... toe ek trou, is ek uit die huis uit en ek het hom agtergelaat ...

Jare later, nadat ek getroud is, sit ek eendag saam met hom op sy rusbank met 'n koue koeldrank in die hand op 'n baie warm dag. Terwyl ons gesels oor die volwasse lewe, die huwelik, verantwoordelikhede en verpligtinge, is my Pa baie ingedagte en hy kyk na my met 'n ernstige uitdrukking.

'Moet nooit jou vriende vergeet nie' sê hy, 'hulle sal al hoe belangriker word, hoe ouer jy word.' 
'Ongeag hoe lief jy jou familie, jou vrou en jou kinders het, jy sal altyd vriende nodig hê.'
'Onthou om af en toe met hulle uit te gaan en te kuier, dinge saam met hulle te doen en hulle te bel ...'

Watse vreemde advies, het ek gedink! Ek is 'n getroude volwasse man, ons eersteling is op pad en sekerlik sal ons gesin en familie alles wees wat sin aan my lewe gee!

Ek het egter sy advies ter harte geneem, met my vriende kontak gehou en jaarliks het daardie getal stadig toegeneem! Oor die jare het ek besef my Pa het presies geweet waarvan hy praat!

Na 50 jaar van lewe, is dit wat ek geleer het:
  • Tyd gaan verby.
  • Die lewe gaan verby.
  • Afstand vergroot.
  • Kinders word groot, word onafhanklik en breek ons harte, want hulle beweeg aan in die lewe.
  • Werk kom en gaan.
  • Illusies, drange, aantrekkingskrag, seks ... word swakker.
  • Mense doen wat hulle nie veronderstel is om te doen nie.
  • Ouers sterf.
  • Kollegas vergeet gunste wat jy hulle gedoen het.
  • Die wedloop kom geleidelik tot 'n einde.
Maar ware vriende is altyd daar, ongeag hoe lank of hoeveel myle hulle van jou af is.

'n Vriend is nooit verder as 'n telefoonoproep nie, en hulle wag gewoonlik vir jou met oop arms, 'n glimlag op die gesig of 'n seënspreking vir jou lewe!

Toe ons hierdie avontuur begin het wat ons die LEWE noem, het ons nooit geweet van al die ongelooflike vreugde en hartseer wat dit op ons pad sal bring nie!

Ons het nie besef hoeveel ons van mekaar nodig sal hê nie.
Wees baie lief vir jou ouers, sorg vir jou kinders, maar behou 'n klomp goeie, dierbare vriende!

Opgedra aan al my vriende. Mag God julle elke dag seën en koester!

[Geleen vir internasionale vriendskapdag vandag]

No comments:

Post a Comment