Monday 4 July 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Na jou droogte

Groete en Vrede!!! 

Daar lê meer as ‘n handvol droogtes en amper heel te veel Kalahari-somers in die bejaarde Kalahari-boer se gisterdae. Hy is blou jare gelede hier op hierdie spesifieke plaas gebore. Sy pa was een van die dapperes wat die Kalahari kom inbreek het. En hier, net hier op hierdie Kalahari-plaas, het hy opgegroei, sy Skepper ontmoet en ook sy verstaan gekry, verlief geraak, lateraan getrou. En hier op hierdie selfde plaas word hy en sy eg saam-saam oud.   

Vandag word water gery. Net ons twee - ek en hierdie gryse Kalahari-boer met sy etsblou oë en son geskroeide vel wat nes ou leer lyk. Vandag ry ons van windpomp tot windpomp en suipkrip en suipkrip al met die swart waterpyp langs. Windpompe en suipkrippe wat hy blou jare gelede as skoolseun vir sy pa help oprig en bou het. Die verwinterde Kalahari-boer se praat is maar min vandag. Twee etsblou oë wat onder ‘n vaalbruin laphoedjie uitloer staar moedeloos ver oor die droë duinewêreld, want die vrag op sy skouers is swaar. 

Die Kalahari is droog ... diep droog en droogte maak lelik. Droogte speel nooit volgens die reëls nie omrede hy nie gunstelinge het nie. Veral hier in die Kalahari waar ‘n sigbare droogtespoor nooit ooit mooi is nie. Nie mooi op die veld, die diere of op diegene wat hier in die Kalahari ‘n bestaan probeer los leef nie. 

Hy loer hoopvol na die liggrys wolkbank bokant die verste sien terwyl hy die stilte saggies breek. “Ek kan nie meer mooi onthou wanneer laas die genadewater van bo ons wêreld behoorlik nat gemaak het nie.” Hy maak sy longe vol asof hy nog iets wil sê, maar gee homself oor aan die stilte. Geduldig wag ek vir hom want sy gemoed is vol. “Iewers in die vorentoetyd sal dit weer reën want geen droogte hou vir altyd aan nie. Êrens sal hierdie droogte breek. Dit is hoekom die liewe Here ons in die Kalahari neergesit het. Ons is hier vir die mooi na die lelike," beduie die oom ‘n paar minute later. 

My oë en dinkdinge kry kans om wyd oor die vaal vlak te loop. Sommer tot daar waar die vlak in die verste sien wegraak. Stomstil snak ek na my asem. Hierdie gryse Kalahari boer is reg. Hy is verseker reg. Dit sal weer reën hier in die Kalahari en dit is waarlik waar iets om te aanskou en oor liries te raak. So verander onse woestynwêreld amper oornag in ‘n paradys vir die oog vanweë dankbaarheid, hoop en verwagting. Dit is wat die Kalahari omskryf en mooi maak ... oorvloedige dankbaarheid, onbeskryflike hoop en betekenisvolle belofte. 

Steeds dawer die verwinterde Kalahari-boer se sagte woorde in my ore. “... geen droogte hou vir altyd en altyd aan nie, want êrens sal die droogte breek ... ” en “ ... Ons is hier vir die mooi na die lelike.”  Onwillekeurig dink ek dadelik aan die groot verskeidenheid van lewensdroogtes wat ons as mensegoed se lewens sedert oom Adam en tannie Eva se tyd versuur. Dodelike droogtes wat so maklik adres in ons verhoudinge, ons gesondheid of in ons finansies maak en ons brose binnevoerings verrinnewoes, verniel en vermink. 

Maar ... genadiglik duur lewensdroogtes nie vir ewig nie. Iewers in die tyd wat kom, sal ons hemelse Vader ‘n bepaalde lewensdroogte breek. Ons is egter nie veronderstel om op hierdie seëninge te fokus, dit na te jaag of daaroor liries te raak nie. Nee, ons is eerder hier vir die gevolg ... die mooi daarna. Ons is hier vir ‘n leefstyl na ‘n droogte. ‘n Leefstyl vol oorvloedige dankbaarheid, onbeskryflike hoop en ‘n betekenisvolle belofte. Net soos die Samaritaanse vrou van Sigar wie se lewensdroogte by die put met lewende water gebreek is. 

Joh 4 vers 39 (a) (NLV) = “Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: ..." 

Sandkorrel baie seëninge.

Los jou 👣 as jy wil by: 

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

[Dankie, Valerie, dat jy gereeld hierdie waarheid met ons deel. Ons het almal nodig om net weer die versekering te kry dat droogtes nie vir ewig aanhou nie. Besoek gerus Divine Life Bediening]  

No comments:

Post a Comment