Saturday 25 July 2020

Vuurwarm vir stukkendes

Handwerk: Meisie de Koker
Jesus se genadehart het vuurwarm geklop vir die verloorders van sy dag. Diegene wat by die godsdienstige leiers 'n yslike rooi kaart gekry het, was heelbo aan sy genadelys. Dink maar aan die vrou wat daai beroep beoefen het waaroor mens nie in goeie geselskap praat nie, van wie ons lees in Lukas 7. Sy het haar trane van Jesus se voete met haar hare afgevee nadat sy ongenooid by 'n ete ingebars het waar Hy die eregas was. Terwyl die godsdienstiges gestik het van verontwaardiging oor die feit dat Jesus haar sondes net daar afgeskryf het, het sy die mooiste woorde ooit uit Jesus se mond gehoor: "Gaan in vrede. Jou geloof het jou gered!" G'n wonder nie dat die godsdienstiges Hom later doodgemaak het. Hulle kon dit net nie vat dat Jesus God se goedheid verniet weggegee het aan sulke mense nie.

Nee, Jesus se genade was nie eens goedkoop nie; dit was sommer heeltemal verniet! Maar dis presies hoe Jesus is, nou nog! By Hom is jy altyd welkom, maak nie saak hoe diep of ver jy geval het nie. By Hom is daar altyd 'n ekstra porsie hemelse genade te kry! Vra Hom net.

No comments:

Post a Comment