Monday 6 July 2020

Die sout van die aarde

Baie baie jare gelede was daar 'n man in Engeland wat 'n paar aartappels gekoop het, dit versigtig geskil het en in dun skyfies gesny het, en toe in olie gebraai het. Hy was so tevrede met die eindproduk dat hy dit in klein pakkies verpak het en dit toe probeer verkoop het.

Maar ten spyte van sy moeite, en sy dappere poging het almal daaraan geproe maar niemand het verdere belangstelling getoon nie. Hy het gedink dit sou 'n blitsverkoper wees, maar helaas was dit n volslae flop.

Hy het weer en weer probeer, maar almal se reaksie was dieselfde. TOTDAT hy eendag 'n baie blink plan gekry het ... Hy het sout oor die gebraaide skyfies gegooi en toe is daar 'n ontploffing. En dis hoe die bros aartappelskyfie-industrie sy begin gehad het.

Die sout het die verskil gemaak.
Ons almal weet dat as ons nie sout oor ons stukkies biltong gooi, of oor daardie gedroogde snoek gooi nie, dan sal dit vinnig vrot word. Die sout maak die verskil tussen smaaklik en vrot.

Toe ek so 'n paar jaar terug 'n heupvervangingsoperasie gehad het, was ek baie verbaas dat die hospitaalpersoneel die wonde met suiwer soutwater gewas het. Nie meer met Savlon of Dettol of wat hulle ookal gebruik nie, maar met suiwer skoon soutwater. Die sout bespoedig genesing en hou die wonde kiemvry.

Nou sê die woord in Matteus 5:13-16

13 "Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit."

Ons as Christene moet die soutpotte wees. Ons moet die lewe ekstra geur gee, soos daardie aartappelskyfies. Dit was nie lekker nie, totdat sout daaroor gesprinkel is. Na die sout, was die smaak anders. Daar is mense wie se lewens nie lekker is nie, maar as ons as Christene hulle met sout en liefde bemoedig, dan verander die "smaak" van hulle lewe heeltemal.

Daar is diegene wat wonde opgedoen het op hul lewenspad. Soms is die wonde deur geliefdes of selfs deur ander Christene toegedien, Jy is God se soutpot. Sprinkel die sout van die Woord as geneesmiddel daaroor, en bevorder so dié genesing

Dan is daar ander mense wat in die proses van verrotting is, Jy is God se soutpot, sprinkel die sout van bekering, verlossing en oorwinning in hulle lewens en keer die verrotting om verder te versprei.

Maar moenie dat die soutpot leeg raak nie, want 'n soutpot kan baie mooi wees, maar as dit leeg is dien dit geen doel nie. Gaan elke dag op jou knieë en vra God om jou te vul, en jou te wys waar jy vir Hom tot diens kan wees.

Georgie.a

[Dankie, ds. Brahm Reyneke dat jy hierdie met ons lesers deel.] 

No comments:

Post a Comment