Saturday 4 July 2020

Saterdag:100 dae

Dit voel vir my asof ons Saterdag sommer die een of ander viering moet hou oor die 100 dae wat agter ons lê. Ons het dit gemaak tot hier toe! Wat begin het as 21 dae, het 100 geword en daar wag dalk nog baie meer ... wie weet.

Miskien het jy dalk verlies gely in hierdie 100 dae – dalk het iemand van jou mense siek geword, dalk kon jou besigheid nie oorleef nie, dalk het jy jou al doodverlang na jou mense, na ’n lekker kuier of fliek of vakansie. Nogtans hoop ek dat jy, soos ek, op dag 100 sal terugkyk en sê: die Here het my deurgedra tot hier. Ek is lus en sit ’n klip neer, soos Samuel in 1 Sam 7. “Samuel het tussen Mispa en Sen ’n groot klip regop gesit as ’n monumentjie. Hy het die klip Eben-Haeser genoem en gesê: “Tot so ver het die Here ons gehelp.” (vers 12) 

Dis wat ek ook sê! 

Dit was nie aldag maklik nie en die ergste lê dalk nog voor. Maar vir vandag kan ek sê: tot nou toe het die Here ons gehelp. Die Filistyne het opgetrek om teen die Israeliete te kom veg. Toe die Israeliete dit hoor was hulle bang en sê vir Samuel om nie op te hou om die Here te smeek vir hulp nie. (vers 8) Ons lees dat hy ’n offer gebring het en die Here om hulp gesmeek het en dat die Here sy gebed verhoor het. As mens dít lees, dink jy dadelik: dankie tog, die Here sal die Filistyne laat omdraai en keer dat sy volk aangeval word. Maar nee, dis nie só nie! Samuel was nog bésig om te offer, toe kom die Filistyne al nader om aan te val. En ek wonder: maar het die Here dan nie Samuel se gebed verhoor nie, waar is Hy dan nou? Hy was, soos altyd, besig om te werk en om op Sý manier uitkoms en versorging en hulp te verseker. Hy het ’n groot donderweer oor die Filistyne laat losbars, wat hulle só verwar het dat die Israeliete hulle kon verslaan. Die hulp het toe op ’n ander manier gekom as wat mens sou verwag. Daar wás ’n geveg, daar wás ’n donderstorm, maar die Here het die oorwinning gegee. 

Nou ja, op dag 100, kan ons, soos op dag 1, dag 50 en tot waar dit ook al gaan aanhou, voortgaan om die Here om hulp te smeek. Hy sal ons gebede verhoor. Hou moed en sit solank ’n klip neer as herinnering dat die Here ons tot hier gehelp het en ons nie nou alleen sal los om te veg en die storms te trotseer nie.

No comments:

Post a Comment