Sunday, 21 December 2025

Geseënde Kersfees

Hierdie Kersfeesboodskap is spesiaal vir al die inwoners wie se kinders en kleinkinders in Engeland of êrens anders oorsee woon. Grootouers wat verlang, veral oor Kersfees, maak kennis met ds. André. Gaan kuier HIER by die SA Gemeente en kyk gerus na al die aktiwiteite wat aan die anderkant van die wêreld plaasvind.  

Daar is drie groepe mense wat die boodskap ontvang het van Jesus se geboorte en aan Hom hulde gebring het in die stal. Eerstens is dit gebring aan die godsdienstiges in die tempel. Die priester Sagaria hoor by die engel dat Hy 'n seun sal hê: Johannes, die Doper, wat die pad vir Jesus moes voorberei. Tweedens is dit aan herders, gewone mense gebring wat dit aan die hele volk verkondig. Derdens was daar wyse manne uit die Ooste, sterrekundiges uit Babilonië - dus mense wat God nie geken het nie en gesien was as heidene.

Christus het gekom vir elkeen in wie Hy 'n welbehae het! Tydens Sy lewe en deur Sy hele bediening getuig Hy aan alle mense - God het jou, hulle en almal lief! Hy preek vir, en red mense uit alle oorde en vlakke van die samelewing: die skelm tollenaars, die teoloog Nikodemus, die ryk jong man, die Samaritaanse vrou en hulle wat buite God se verbond staan, sowel as die moordenaar aan die kruis.

Jesus het elkeen wat in Hom glo, kom red. Hy is die enigste Here en Verlosser. God is die enigste Almagtige wat heers oor alles en almal, en Sy Gees is met jou vandag.

Ons staan vandag weer in die stal. Die Boodskap van Jesus Christus is vir jou bedoel, ongeag vanwaar jy kom en waarheen jy op pad was en is. Kom ons gaan uit en deel Sy Liefde aan elkeen in wie Hy 'n welbehae het!

Mag jy en jou geliefdes voorwaar 'n Geseënde Kersfees hê, en God se Liefde leef!

Gebed:
"Ere aan God in die hoogste hemele, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het."

Seënwense
Andrè

[Bron: Lees gerus HIER]

No comments:

Post a Comment