Sunday, 14 December 2025

Oomblik van stilte: Matt. 6:12

Vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.


Die lewe is so 'n wonderlike gáwe van GOD, ek wil nie één oomblik daarvan verlore laat gaan deur 'n wrok wat ek met my ronddra omdat ek níé kan vergewe nie.

En hóé vry voel ek, en hoe móói die dag, wanneer ek alles en almal, myself ingesluit, vólkome vergewe het. Die son skyn sommer helderder, die lied van die voëltjies klink sommer mooier, omdat ek vry is en deel kan wees van God se pragtige Skepping.

Die vergifnis wat my só vry maak, kom uit 'n hart vol liefde - die líéfde van Christus in my hart, wat geen plek het vir enigiets wat nie getuig van Sý liefde nie. In hierdie wonderliefde, lewe ek, dink ek en doen ek. Soos 'n nimmer-eindigende sirkel is dit om my gevou, en niemand met kwade bedoelings kan hierdie sirkel verbreek nie. Níémand kan my seermaak nie, want Jesus se liefde omvou my. Vry-en-bly kan ek saam met al my Jesus-vriende voortgaan op my pad van lig, vrý van die seer van die verlede en blý omdat ek só kan vergewe.

Gebed: In Gods genadige liefde vergewe ek myself en énigeen wat my te ná gekom het, omdat JÉSUS my vergewe het aan die ou ruwe houtkruis op Golgota.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

No comments:

Post a Comment