Friday, 5 December 2025

Gedig: Die hardloper

Met wilde maar met suiwer hart
het hy die woeste wedren fel begin,
en elke myl met rappe voet getart,
hy sou die vlugste lopers nog oorwin.

Sy hart het hoog geklop, sy bloed was heet,
die winde het sy haregolf gelig;
met snelle draf het hy die baan gemeet,
die vreug van spierkrag was op sy gesig.

Hy het geloop met stormdrang in sy bloed,
sy ademstoot 'n hete windgejaag,
die see se branding in sy strenge moed,
toe hoor hy reeds die donker, bitter vraag:

Wie is die ongesiene makker in die loop,
van wie die voet langs syne en die wind
van asem agter hom, van wie die hoop
dat nog 'n bors die dun wit lint mag vind?

Dié vreemde spanmaat het hy nie geken,
nooit hardloop hy weer sonder pyn of vrees;
hy weet al het hy nou die loop gewen,
die ander man sal eendag eerste wees.

[Ernst van Heerden]

No comments:

Post a Comment