Tuesday, 2 May 2023

Dinsdag-denke: Here, ek wil nie huil nie

My seun, Fanie, was agt jaar oud en was deel van die Voortrekkers vir ‘n klein rukkie. Tydens een van hulle byeenkomste het elkeen ‘n vel papier gekry, ‘n stuk hout en vier wiele en hulle was aangesê om dit huis toe te neem en vir “Pa” te gaan gee.

Vir Fanie was dit nie ‘n maklike taak nie. Pa was nie een van daardie mense wat graag iets saam met sy seun gedoen het nie. Pa het geglo dat ‘n kind maar sommer self moet grootword. Maar Fanie het hard probeer en elke dag vir Pa gevra vir sy hulp.

Pa het die vel papier geneem, die voorskrifte gelees en dit smalend eenkant gegooi. Hy was beslis nie van plan om saam met sy jong seun ‘n houtkarretjie te bou nie. Die blok hout het vir weke daar eenkant gelê. Die tyd het verby gegaan.

Eendag het ma besluit genoeg is genoeg, sy het die vel papier geneem en gekyk of sy miskien iets met die stuk hout en vier wiele kon uitrig. Projek motorbou het in alle erns begin. Sy het nog nooit houtwerk gedoen nie, en die beste wat sy kon doen was om stap vir stap vir Fanie te verduidelik wat gedoen moes word, en hom die werk te laat doen. Hy was so gretig dat hy baie entoesiasties alles gedoen het wat Ma verduidelik het. Sy het die mates vir hom gelees, en al die moets en moenies van die motor wat gebou moes word.

Binne weke het die stuk hout vorm begin aanneem en was die buitelyne van die sportmotor al duideliker sigbaar. Effens skeef en krom, maar baie mooi (of so het Ma gedink). Fanie het nie een van die ander kinders se motors gesien nie, en was baie trots op sy blou weerligblits van ‘n motortjie. Daardie trots wat jy voel as jy iets self met groot gesukkel reggekry het.

Toe breek die groot dag van die wedren aan. Met sy blou houtmotortjie in sy hand, en ‘n hart wat wil bars van trots, het ons na die veld gery waar die groot wedren van houtmotortjies sou plaasvind. Toe ons daar aankom het Fanie se trots baie gou in vernedering verander. Sy motor was baie duidelik die enigste een wat deur hom alleen gemaak was. Al die ander motors was baie duidelik ‘n seun-pa-vennootskap, met stylvolle lyne, en baie “cool’ geverfde strepe. Regte sportmotortjies wat gebou is om die maksimum spoed uit te kry.

‘n Paar van die seuns het sommer hardop begin giggel vir Fanie se skewe, onaantreklike selfgeboude en selfgebroude motor. En om dit nog erger te maak, was Fanie die enigste seun sonder ‘n pa aan sy sy. Daar was ‘n paar seuns van enkelouerhuise maar hulle het darem ‘n oupa of ‘n oom saam met hulle gehad, en al wat Fanie gehad het, was “Ma”.

Die wedloop het begin en dit is gedoen deur middel van eliminasie. So lank as wat jy onder die voorste paar was, het jy in die wedloop gebly. Een vir een het die motors by die sand glybaan afgejaag. En uiteindelik was die wedloop tussen Fanie en die mooiste motortjie van die dag. Toe die laaste wedloop reg is om te begin, het my grootoog, skaam seuntjie gevra of hy die wedloop net met ‘n oomblik kan vertraag, omdat hy eers wil bid. Almal het stil geword.

Fanie het op sy knieë neergesak en sy snaakse skewe blou motortjie tussen sy handjies vasgehou. Met ‘n ernstige frons op die sproetgesiggie het hy met sy Hemelse Vader in gesprek gegaan, baie ernstig het hy vir ‘n minuut en ‘n half gebid, toe staan hy op, glimlag vir almal en kondig ewe braaf aan: “Ok, ek is gereed”.

Die skare het begin skree, en ‘n seuntjie genaamd Tommie het langs sy pappa gestaan terwyl die twee motortjies teen die wal af jaag. Fanie het alleen gestaan, met net sy Hemelse Vader in sy hart en gekyk hoe sy lelike skewe motortjie met verbasende spoed teen die wal afry, en met ‘n sekonde of twee voor Tommie se motortjie oor die wenstreep jaag.

Fanie het in die lug opgespring en geskree: “Dankie, Dankie!” en die skare het hulle goedkeuring uitgeskree. Die organiseerder het met die mikrofoon na Fanie gekom en vir hom gevra: “Fanie, het jy gebid om te wen?” en toe antwoord my kind: “O, nee Oom, dit sou baie onregverdig van my gewees het om te verwag dat die Here moet gee dat Tommie verloor. Ek het net vir Hom gevra om my te help dat ek nie huil as ek verloor nie.”

Weereens kan die wysheid van kinders ons verstom. Fanie het nie die Here gevra om die uitslag van die wedloop in sy guns te swaai nie, maar hy het die Here gevra vir krag, ongeag wat die uitslag van die wedloop was. Toe Fanie die eerste keer al die ander motors sien, het hy nie God beskuldig omdat al die ander seuns pa’s gehad het wat hulle gehelp het, en hy net vir Ma gehad het nie. Nee, hy het net gebid vir krag om die uitslag met waardigheid te aanvaar.

Miskien spandeer ons teveel tyd om God te vra om die uitkoms van ons lewenswedloop in ons guns te laat swaai, om ons die wenners te maak. Of miskien spandeer ons te veel tyd om God te vra om die wedloop heeltemal te verwyder, in plaas daarvan om op ons knieë neer te sak en God te vra om ons krag te gee om die wedloop met waardigheid te voltooi.

Fanie het nie gebid om die ander seuntjie te laat verloor nie, dit was onregverdig in sy oë. Hy wou net krag hê, krag om nie te huil as Tommie se motortjie gewen het nie.

Deur die wedloop te stop, en eers te bid, het hy vir almal daar gewys dat hy nie daar was sonder ‘n Vader nie, sy Hemelse Vader was die hele tyd by hom. Daardie aand het Fanie as oorwinnaar weggestap, met sy Vader langs hom.

Here, maak ons soos Fanie, gee ons krag om die stryd met waardigheid te voltooi, en deur dit alles, hou asseblief ons hand baie styf vas.

[Nog kosbare stories HIER]

No comments:

Post a Comment