Tuesday 30 May 2023

Dinsdag-denke: Klee jouself reg

Klere is vir die meeste van ons baie belangrik. Die meeste van ons hou van nuwe en mooi klere.

Paulus sluit aan by ons liefde vir klere wanneer hy in Kolossense 3:12-14 sê dat ons as gelowiges ons ook op ‘n sekere manier geestelik behoort te klee.

Hy sê: “Klee julle met nederigheid, begrip, goedgesindheid, sagmoedigheid, geduld, vergifnis en liefde.”

Ek dink dis goeie raad vir die tye waarin ons ook lewe, vol spanning en onverdraagsaamheid teenoor mekaar. Dit wil voorkom of mense aggressiewer en wreder word.

Kyk maar net hoe woedend raak ons op die paaie of hoe ongeduldig is ons wanneer ons in die lang toue moet staan en wag. Dit lyk dan beslis nie of ons na Paulus geluister het en ons geestelike klere aangetrek het nie. Dit lyk eerder of ons dit by die huis gelos het.

Paulus stel voor dat ons begrip aantrek en sien hoe dit pas. Stel jouself in iemand anders se skoene. Probeer verstaan hoekom iemand op ‘n spesifieke manier optree. Daar is dalk ‘n baie goeie rede voor.

Trek goedgesindheid bo-oor aan: in jou huwelik, met jou eie kinders en ook in jou klas - soek na dit wat in jou maat, jou kinders se beste belang is. Bederf jou maat en probeer meer doen as wat daar van jou verwag word, met ander woorde wees goed vir die ander een.

En dan nederigheid. As daar nou ooit ‘n gebied is waar trots, die behoefte om reg te wees en die stryd om mag voorkom, dan is dit in ‘n huwelik. Die gebrek aan nederigheid lei tot elke moontlike stryd. Nederigheid is om jou eie foute te erken en te erken dat die ander een ook ‘n sê het.

Sagmoedigheid is nog ‘n waardevolle kledingstuk in die lewe. Dit is om nie opvlieënd of humeurig of rusiemakerig of aanvallend te wees nie, veral in die moeilike omstandighede waarin ons ons tans bevind. Ons kan elkeen met ‘n paar kledingstukke van sagmoedigheid doen.

Geduld is ‘n noodsaaklike kledingstuk. In ‘n huwelik, ouer-kindverhouding, en in die klas, het ons geduld nodig. In verhoudings het ons die vermoë om partykeer mekaar se verkeerde knoppies te druk. Geduld verg humor.

Nog noodsaaklike kledingstukke is verdraagsaamheid en vergifnis. Daar is baie wat in verhoudings verdra moet word. Nêrens anders nie as in die huwelik en tussen ouers en kinders het ‘n mens herhaaldelik nodig om te sê: “Ek is jammer”; “Ek was verkeerd”; “Ek is lief vir jou”. Vra en gee vergifnis so dikwels as nodig.

Bo-oor al die klere sê Paulus, trek liefde as ‘n oorjas aan. Die onvoorwaarlike soort liefde, dié soort wat sê ek het jou lief, maak nie saak wat nie. Hierdie is nie van natuurlike stof gemaak nie. Dit is van geestelike goed geweef. Jy kan dit nie uit jou eie krag skep nie, jy het die Here nodig.

Mag God deur Sy gees aan ons die genade gee om ons elke dag só te klee.

Ds. Janine Bevolo-Manders (Nederduitsch Hervormde Kerk Witfontein in Pretoria-Noord)

[Nog kosbare stories HIER]

No comments:

Post a Comment