Tuesday, 16 June 2026

Keuse: "Vandag ... as julle my stem hoor" Hebreërs 4:7

'n Sekere sakeman wat heeltemal verdiep was in sy besigheidstransaksie en min tyd gehad het vir die dinge van die Here, het op 'n dag sy predikant besoek en hom vertel van 'n eienaardige droom wat hy gehad het.

"Verlede nag," so het die besigheidsman vertel, "het ek gedroom dat ek op 'n sakereis was en my skielik voor 'n groot huis, met 'n ysterhek daarvoor, bevind het. 'n Onsigbare mag het my na binne getrek. Toe ek in die binneplaas kom, en om my rondkyk, het ek daar etlike bekendes gesien wat reeds gesterf het. Hulle het almal verskriklik treurige en ontsteld gelyk. Ek het onrustig geword en angstig na die uitgang begin soek. Maar toe ek by die ysterhek kom, was dit gesluit. Ek het verneem dat die poort slegs oopgaan om inkomendes binne te laat.

Ek het vurig gepleit en bitterlik geween, en eindelik het die poortwagter hom oor my ontferm. Hy het my 'n verloftyd van agt dae toegestaan, met die waarskuwing dat ek na verloop van die tyd vir goed opgesluit sou word indien ek weer my verskyning voor daardie poort mag maak. Toe het ek wakker geword." 

Die eerste dag het die droom die besigheidsman baie stof tot nadenke gegee, en hy het ook werklik besluit om die predikant se raad te volg; maar later het hy die gedagte weg geredeneer en getrag om die diepe indruk wat die droom op hom gemaak het, uit sy gemoed te verban.

Op die agste dag het hy 'n reis te perd onderneem en onverwags voor 'n huis met 'n ysterpoort gekom, soos die een waarvvan hy gedroom het. Hy het groot geskrik en sy perd die spore gegee om so gou as moontlik van die plek af weg te kom. Maar meteens het die perd geval en die handelaar het hard op die grond te lande gekom. Hy is sodanig beseer dat hy kort daarna oorlede is. Die kosbare genadetyd van agt dae het hy nie tot sy voordeel gebruik nie, dog die Here se vermaning verontagsaam. En hy is die ewigheid in sonder om hom te skik om sy God te ontmoet.

Hierin is ook 'n waarskuwing vir elkeen met wie die Heilige Gees praat om hom tot bekering te lei. Moenie uitstel nie - die genadetyd kan verbygaan, en dan is dit vir ewig te laat. Luister vandag na die Here se vermaning: "Vandag, as julle my stem hoor, verhard julle harte nie!"

[Bron: Spoorwegbode Januarie 1985]

No comments:

Post a Comment