Sunday 14 April 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Ons Wegoopmaker

Groete en Vrede!!!

Kyk, dit is nou maar wors. Draadwerk is alles behalwe maklik. Dit is vrek harde werk. Van ver af lyk dit maklik want nadat gate op die regte plek gegrou is, word dik teerpale daarin geplant. Daarna word drade aan die pale vasgemaak en styf getrek. Sodra dit gedoen is, word sif gehang waarna 'n klompie sparre vasgemaak word en siedaar ... die draad is gespan. Heel maklik, heel eenvoudig en voor jy kan sê "Koop Suid-Afrikaans" is alles klaar. Altans, dit is wat ek gedink het, maar so paar maande gelede het ek mooi geleer dat draadwerk veel meer behels as wat mens sou dink.

Ons vergrote erf moes behoorlik toegespan word en ek het vir Kef gevra of hy my tog ‘n hand sal gee met hierdie projek wat die Maandagoggend sou begin. “Nee wat pastoor het hy gesê nadat ons die saak vasgemaak het, “ons maak sommer gou-gou klaar. Miskien so oor 5 dae.”

Sommer vroeg-vroeg die volgende Maandagoggend was daar ‘n klop aan die agterdeur. My verbasing was groot toe klein Corrie (wat skaars 13 jaar oud is) saam met sy pa kom inval vir die draadwerk. "Die klong moet leer pastoor, die klong moet die draadwerk leer. As hy wil man wees, moet hy leer” het hy selfvoldaan gesê terwyl ons hierdie dag se eerste beker koffie afsluk. "Vandag maak ek sy pad vir hom oop. Vandag begin hy leer wat dit is om ‘n grootmens te wees."

Klein Corrie sit grootoog en luister na sy pa se woorde. Ek wonder wat alles deur hierdie jongeling – wat eintlik nog op die skoolbanke moet wees - se kop gaan. Dalk besef hy dit nog nie, maar vandag loop hy op die pad wat sy pa vir hom oopmaak. En so was dit ook dan gewees. Kort voor lank het ons sweet gespat, maar Corrie het die meeste gesweet om tred te hou met Kef. Dié se genade is maar aan die min kant as dit by werk kom.

Ten spyte van sy jeugdige ouderdom het Corrie daardie Maandag gate met 'n swaar grou-yster gegrawe, water met 'n verf emmer aangedra, sand en sement met die kruiwa aangery en dit gehelp meng. Dit alles, terwyl Kef eers verduidelik en dan wys. Daarna werk Kef die heeltyd saam met Corrie terwyl hy die jongeling met 'n fyn oog dophou en reghelp. “Onthou” het Kef gesê, “Vandag maak ek sy pad vir hom oop. Vandag begin hy leer wat dit is om ‘n grootmens te wees."

Die Mooiste Mooi het later daardie selfde middag vir ons yskoue koeldrank gebring. Terwyl ons in stilte hierdie yskoue lafenis koeldrank geniet, dink ek aan Kef se plan met sy klong. ‘n Plan om sy seun in te lyf om man te wees. Terselfdertyd onthou ek ook dat inlywing of ontgroening as jy wil, uiters noodsaaklik maar nooit lekker is nie. Dit maak nie saak of dit nou op skool, op die sportveld of in die werksomgewing is nie, inlywing bly onlekker. Veral as dit jou beurt is om dit te beleef of te ervaar.

Dan herinner die Veilige Gees my dat Jesus ook op 'n unieke manier die 12 dissipels ingelyf het. As die Wegoopmaker het Hy vir hulle 'n sprekende voorbeeld gestel wat van hulle verwag word. Nie soseer met woorde nie, maar eerder by wyse van 'n voorbeeld. Die dissipels moes leer om soos Hy te wees. Hulle moes leer om die minste te wees en ander onvoorwaardelik te dien. Daarom het Jesus hulle voete - toe hulle dit die minste verwag het - gewas. Petrus wou die aand soos 'n halsstarrige donkie vasskop maar lateraan het die ou heethoof uit respekte stil-stil toegegee.

Om waarlik kind van die Skepper van hemelgoed en stofaarde te wees (of om waarlik deel van Sy uitverkore groep te wees) impliseer dat ek en jy deur Hom wat die Wegoopmaker is, ingelyf moet word. En hierdie inlywingsproses behels dat ek en jy - sonder voorwaarde, sonder klagte en sonder teenstribbeling – die minste moet wees en ander moet dien. Ons moet bereid wees om te sê wat Hy sê, te maak soos wat Hy maak en te wees soos wat Hy is. En wanneer ons dit doen, sal 'n genadelose en wrede wêreld weet wie ons Wegoopmaker is!

Mar 9 vers 35 (Afr20) = “Nadat Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: “As iemand eerste wil wees, moet hy laaste van almal en almal se dienaar wees.”
 
Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.] 

No comments:

Post a Comment