Sunday 28 July 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Anna se simfonie

Groete en Vrede!!!

Ons was altwee besig die spesifieke dag en sou eers met etenstyd kon gesels. Ek was buite besig by Die Ark, terwyl die Mooiste Mooi in die Sentrum doenig was. Vandag is een van daardie spesiale dae wat sy en ‘n klompie van Noenieput se vroue hulleself besig hou met “crafting” aktiwiteite in die Sentrum. Daar word gewoonlik gekuier, gelag, hulle koggel mekaar en natuurlik bid en huil hulle saam. Manne is nie welkom nie. Die enigste taal wat in die Sentrum gepraat word, is vrouetaal. En die manlike geslag sukkel mos maar oor die algemeen om regtigwaar hierdie taal ... hierdie hartstaal van 'n vrou te verstaan.

So ‘n “crafting” dag het vir die meeste van hierdie vroue amper heilig geword. ‘n Plek en tyd waarop hulle besitlik en selfs jaloers is. Jare gelede het Pollie en haar buurvrou, Lucy, op 'n keer vir voorwêreld vriende wat kom kuier het, beduie dat die “Craftkamer” die enigste plek is waar hulle veilig voel. Veral as dit voel asof die stofstorms van die lewe jou versmoor.

“Ou Anna se hart is soos ‘n oorlooptenk vandag. Sy is weer op haar snykant met al die gekerm en gekla” sê die Mooiste Mooi met die aansit by die etenstafel. Meteens verstaan ek waar die moedeloosheid wat met ‘n hoofletter M en ‘n strepie op elke “o” wat tog te duidelik op haar voorkop geskryf is, vandaan kom. Sonder om ‘n woord te sê, vat ek haar hand en kyk haar vol in die oog. Ek weet sy sal die vraag in my oog sien. Ek weet ook sy sal my daarvan vertel.
 
So vertel die Mooiste Mooi lateraan dat Ou Anna (wie floreer op simpatie), soos gewoonlik weer laat was. Eintlik was sy baie laat ... so laat dat sy net na die oggend se koffietyd daar aangekom het. Sommer met die inloop in die Sentrum in, kon mens al aanvoel dat ou Anna vandag weer van haar gaan laat hoor. Haar benerige skouertjies wat lyk asof hulle weke laas gelede reguit was, het die stryd teen die swaartekrag verloor.
 
Sommer so met die toemaak van die deur, het sy almal bekyk, die leë koffiebekers en klein bordjies gesien, diep gesug en haar geplooide gesig op 'n kreukel getrek. Haar eerste woorde nog voor sy by haar stoel langs die werkstafel kon kom, was dat sy nog nie nat of droog oor haar lippe gehad het nie. “En ‘n koekie of twee ... veral daardie soort met die stukkies sjokolade in, sal darem al te ‘nxa’ wees” het sy geskimp.

Sy het skaars haar sit gekry, toe sy wegspring om met oorgawe ‘n simfonie - haar klaagliedsimfonie - uit volle bors te sing. Die meeste van haar gekerm en gekla kom oor etlike jare saam. Hoofsaaklik het dit maar gehandel oor haglike lewensomstandighede asook die stryd in en met haarself. Aspekte waaraan sy of haar huismense nie kan of wil aandag gee nie. So word die vinger na alles en almal gewys terwyl die waarheid meestal tot haar eie voordeel heel vreemd voorgehou word.
 
Terwyl die Mooiste Mooi so tussen al ons gekou en gesluk langs die etenstafel vertel, besef ek dat ou Anna en moontlik ook ek, jy en alle ander mensegoed wat ook kerm en kla, eintlik in goeie geselskap is. Vat maar as voorbeeld vir Israel van ouds. Dink maar net aan al hulle gekerm, gekla en ook hul gesanik terwyl hulle in Egipte was. Die klompie uitverkorenes het onophoudelik in die Here se ore geneul oor die verdrukking en hulle gesukkel en gesweet.
 
Meteens besef ek dat die Here nooit sluimer of slaap nie. In Sy allemintige wysheid het Hy ‘n plan en ‘n uitkoms vir elke klagte. Dit is dalk nie die plan wat ek en jy en Anna in gedagte het nie, maar ons Here het ‘n plan. In Israel se geval was dit 'n dramatiese en drastiese plan. Hierdie plan behels om ‘n bejaarde Moses wat in die Midian woestyn weggekruip het, te stuur om die volk uit Egipte te lei. Na sy ontmoeting met die groot “Ek is”, vat Moses (ondanks die feit dat hy bang en vol verskonings is) mede-eienaarskap van hierdie reddingsplan. Net soos Jesus ‘n paar eeue later, het hy gegaan en gedoen wat van hom verlang word. Ek wonder of dit is wat die Israeliete destyds en die mensdom vandag wou hê. Dalk wou hulle eerder sien dat die Here self die saak beredder.

Ons etensuur is amper verby en ons aktiwiteite moet haas aan weer aan die gang kom. Die gekoer van ‘n handjievol bosduiwe op die Sentrum se dak trek my aandag, terwyl ek en die Mooiste Mooi Sentrum toe stap. Net voor ek die deur vir haar oopmaak, besef ek dat Vader iewers in die gistertye van die lewe sommiges van die Kalahari se alleen en vergete mense se gekerm en gekla gehoor het. Vanweë Sy oneindige liefde vir hulle, het Hy in Sy allesomvattende wysheid besluit om iets daaraan te doen. Eers het Hy Jesus gestuur. Baie jare later moes ek en die Mooiste Mooi ‘n bondel Kalahari mensegoed onvoorwaardelik kom lief hê en help. Iets wat ons net met Sy hulp, leiding en onderskraging kan doen.
 
Maar wat van jou en my? Wat van ons? Gaan ons soos ou Anna aanhou kerm en kla oor alles en nog wat? Gaan ons ander se ore onnodig moeg maak met al ons geneul? Of gaan ek en jy eerder as gestuurdes, ander kosbare mensegoed onvoorwaardelik lief hê omrede Vader ons na hulle gestuur het om te help? Ek dog ek vra maar.

Eks 3 vers 10 (Afr20) = "Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy moet my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte uit."

Sandkorrel baie seëninge 

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.


[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie stukkie. Indien jy as leser wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]

No comments:

Post a Comment