Wednesday 10 July 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Maak die linne los

Groete en Vrede!!!

Die dankbaarheid in my binneste binne kook byna oor toe ek Pieta se vriendelike breë glimlag in sy swartbruin oë sien met die oopmaak van ons kuierkombuis se deur. Sommer so met die groet, kon ek aanvoel dat Pieta iets op die hart het. Iets groots ... iets kosbaars. Maar tog is dit ook iets wat swaar op sy gemoed en sy skouers druk.

"Ai jinne, Pastoor,” sê Pieta nog voordat ons op die sementbankies onder die Apiesdoring langs die kantoor kon sit, “ek is tog so bly julle oorstaan in die voorwêreld is verby. Pastoorgoed moet tog vir my hand gee asseblief. Na laaste Saterdag voel dit kompleet asof my dinkdinge vasgebind is. Alles hierbo deurmekaar.” Stil stom bekyk ek hierdie geharde Kalahari-boorling ampertjies ongelowig op en af. Dit is nie die Pieta wat ek en die Mooiste Mooi sowat dertien jaar gelede ontmoet het nie. Daardie Pieta is hardkoppig, vasberade, eiewys en egosentries. Iemand oor wie se lippe “hand-vra-woorde” nie maklik kom nie.

"Pastoorgoed sien,” beduie hy lateraan “ek het mos laaste Saterdag my saak met die Here reggemaak. Daardie oomblik toe my eg se kis in die graf wegsak, het ek besef dat ek vir te lank 'n dooie lidmaat is wat met my rug na die Here toe staan. Ek wil soos my eg wees. Sy is mos met haar oog op die Here die ewigheid in. Omrede ek nou onseker is vra ek hand, maar die volk kan of wil nie hand gee nie."

Met die aanhoor van Pieta se hand-vra-woorde, herinner die Veilige Gees my aan 'n bekende leë graf storie - Lasarus se leë graf. ‘n Storie waar die wegrol van ‘n grafklip en die losmaak van doodslinne baie belangrik is. Terselfdertyd besef ek dat die ooreenkoms tussen Lasarus en Pieta se stories meer as net die dood is. Die realiteit is dat beide dood was - die een fisies en die ander geestelik.

Lasarus was dood ... fisies dood en daar is begrafnis gehou. Etlike dae na die verrigtinge word daar steeds lang trane oor hom gehuil. En op die vierde dag na sy dood het Marta (Lasarus se suster) selfs per geleentheid gesê het dat hy dae sal ruik. Jesus as God se Kêrelkind, het egter nie 'n menslike perspektief op Lasarus se afsterwe gehad nie. Volgens Hom het sy vriend egter net geslaap. Lasarus moes bloot net wakker gemaak word.

Net so was Pieta ook geestelik dood en vasgevang in ‘n geestelike rotsgraf. Hy wat Pieta is, het homself daarin begrawe omdat hy doelbewus gekies het om sy rug op die Skepper van hemelgoed en stofaarde te draai. En so het die Kalahari se uitverkoopte gelowiges hom geken ... ‘n dooie lidmaat wat net aan die slaap is.

By Lasarus se graf was ‘n bondel begrafnislopers wat kom treur en groet het. En in opdrag van Jesus, moes hulle die onverwagte en onnatuurlike doen. Hulle moes die grafklip voor Lasarus se rotsgraf wegrol. Jesus se uitroepwoorde kon nou sonder enige fisiese hindernis by Lasarus se ore uitkom. Uitroepwoorde lig toe en uitroepwoorde lewe toe.

Net so was daar ook begrafnislopers by Pieta se onsigbare geestelike rotsgraf wat kom treur en groet het. Hulle wou of kon nie aanvaar dat Pieta geestelik dood is nie. Dit is daardie uitverkoopte gelowige mensegoed wat nie skaam was om liefdevol teenoor hom op te tree en gereeld vir hom te bid nie. Hiermee het hulle verseker dat die grafklip voor Pieta se onsigbare rotsgraf weggerol word. Nou kan hy Jesus se uitroepwoorde sonder enige hindernis hoor. Uitroepwoorde lig toe. Uitroepwoorde lewe toe.

Meteens besef ek dat Lasarus se storie nie hier eindig nie. Alhoewel die ontbinde lyk die lewe bo die dood gekies het, het hulle hulp nodig gehad. Lasarus wat soos 'n mummie lyk, kom sukkel-sukkel uit sy rotsgraf terwyl sy hande, voete en kop steeds in doodslinne toegedraai is. Hy kon by homself nie regkom nie. Daarom is daar vir die begrafnislopers ‘n konkrete en daadwerklike opdrag gegee om die versmorende doodslinne van Lasarus los te maak sodat hy kan gaan.
 
Stilweg snak ek na my asem. Meteens weet ek waarom Pieta kom hand vra het. Hy het hulp kom soek omdat hy sukkel-sukkel uit ‘n geestelike rotsgraf kom. Dit voel vir hom asof sy dinkdinge verstrengel is in geestelike doodslinne wat rondom hom gedraai is. Doodslinne waaruit hy by homself nie kan kom nie.

As uitverkoopte gelowige mensegoed, is dit ons plig en Godgegewe verantwoordelikheid om mekaar te help. Ons moet mekaar en al die Pieta's van die lewe help om ontslae te raak van versmorende doodslinne. Doodslinne wat versmoor. En dit doen ons deur mekaar altyd in nederigheid te dien en onvoorwaardelik lief te hê. Dit is nou sonder enige uitsondering en sonder enige voorwaarde.

Joh. 11 vers 39 (a) (Afr20) = "Jesus het gesê: “Vat die klip weg.”
Joh. 11 vers 44 (Afr20) = "Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.


[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie stukkie. Indien jy as leser wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]

No comments:

Post a Comment