Wednesday, 27 August 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Skud dit af en trap daarop!

'n Boer se ou donkie het eendag in die put ingeval. Die ou dier het ure lank gebalk, terwyl die boer probeer het om 'n plan te maak. Uiteindelik besluit hy toe dat die ou dier reeds te oud is, en die put het in elk geval nie meer water in nie en moet dus maar toegegooi word. Toe nooi hy al sy bure om hom te help om die put op te vul. Elkeen het 'n graaf gebring en begin om grond in te gooi. Die ou dier besef wat aangaan, en protesteer luidkeels. 

Maar, tot almal se verbasing, word dit skielik stil. 'n Rukkie later loer die boer oor die kant van die put en sien wat gebeur. Die donkie skud elke graafvol grond wat op sy rug val, af en trap dit vas. Terwyl die span manne die grond ingooi om die put op te vul, skud hy die grond af en klim elke keer 'n tree hoër.

Uiteindelik tree die donkie oor die kant van die put en draf weg! As die lewe jou probeer onderkry deur alles wat op jou val, moenie moedeloos word nie. Skud dit af en gebruik dit vir 'n trappie boontoe. Moet net nie opgee nie. Skud dit af en trap daarop!

No comments:

Post a Comment