Friday 22 December 2023

Vrydag-terugflits: Vriende van die bejaardes

Geseënd is hulle wat altyd verstaan
as ek bewend moet tas of struikelend gaan;
wat weet dat my ore met moeite kan hoor -
dat ek maklik die draad van die storie verloor.

Geseënd is hulle wat self sommer weet
dat my oë al swak is en ek maklik vergeet.
Geseënd is hulle wat kastig nie sien
dat ek koffie gemors het toe hul my bedien.

Geseënd is hulle wat rustig kan wag
terwyl ek vertel van my eensame dag;
wat nooit sal verwyt of humeur sal verloor
al vertel ek die storie weer oor en oor;
Geseënd ook deur die newels kan dring
om gister weer helder na vore te bring.

Geseënd as hulle my nou nog laat voel
dat hul liefde en agting opreg word bedoel.
Wat verstaan as my kragte my weifelend laat vra:
"Hoekom is my kruis soms so swaar om te dra?"
Wat die las help verlig met liefde vir my,
op die skof wat my eindelik huis toe sal lei.

[Uit: Dorsfontein: Dutoitspan-gemeentemaandblad - Maart 1984]

No comments:

Post a Comment