Saturday, 28 March 2026

Huisgenotjies: Dis mos gek!

Op 1 April is daar net twee soorte mense: dié wat gek is na Aprilgrappe en dié wat dink Aprilgrappe is gek.

* Die linkerhandbielie
In 1988 het Burger King 'n volbladadvertensie in USA Today laat plaas om die linkerhandbielie, wat spesiaal vir die 32 miljoen linkshandige Amerikaners gemaak word, aan die publik bekend te stel. Die linkerhandbielie bevat dieselfde bestanddele as die bekende oorspronklike Whopper (blaarslaai, tamaties, hamburgerfrikkadel), maar al die geurmiddels word vir die gerief van die linkshandige eters 180 grade gedraai, is gesê. Duisende linkshandiges het dié Aprilgrap geglo en sulke hamburgers bestel.

* Tieners met getatoeëerde ore
Op 1 April 1994 word op die radioprogram, All things considered, aangekondig dat maatskappye soos Pepsi die tatoeëering van tieners se ore met die logo van deelnemende maatskappye gaan begin borg, mits dit twee sentimeter groot is. Tieners wat getatoeëerde logo's op hul ore vertoon, sou lewenslank 'n afslag van tien persent op die produkte van die betrokke maatskappy ontvang. Honderde tieners het met groot entoesiasme op die aanbod gereageer.  

* Rekord-spaghetti-oes
Op Maandag, 1 April 1957, is daar oor die BBC-nuusprogram Panorama berig dat die landbougemeenskap van Switserland danksy 'n matige winter en die sukses wat met die bestryding van die gevreesde spaghetti-kalander behaal is, 'n rekord-spaghetti-oes in dié oesjaar verwag.  

Beeldmateriaal van plaaswerkers wat stringe spaghetti uit bome ryg, is aan die kykers vertoon. baie mense het dit onwrikbaar geglo en ingeskakel om navraag te doen oor die kweek van spaghettibome, waarop hulle die volgende antwoord van die BBC ontvang het: "Plaas 'n spaghetti-takkie in 'n blik tamatiesous en hoop vir die beste." Vir een jaar sou spaghetti volop wees!!!

[Vrouekeur, 1 April 2005] 

No comments:

Post a Comment