Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur,
wat my swyend omsluit.
Strofe 4
Soos ‘n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom ‘n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot ‘n stapelbou
van marmer wat krul en leef -
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en beef.
En o, met my is die windjies bly:
hul spring uit die stof orent
en wals en draai in dwarrelswaai
oor my vloer, van ent tot ent;
die gras skud hul wakker om same te jakker
tot hy opspring uit sy kooi
en soos mane en sterde van jaende perde
sy stingels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
kom die eerste druppels neer,
tot dit ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en buit
jaag ‘n haelwolk langs verby,
soos ‘n perde-kommande wat dreun oor die lande
vertrap en gésel hy -
en sy lyke kleed sien ek ver en breed
in die awendson gesprei.
* Jan F. Celliers
[Ons kuier by die ouer digters, want dit is die gedigte wat vasgelê is in ons inwoners se geheue. Lees Die Vlakte proe-proe en kyk hoe beskryf dit die storm.]


No comments:
Post a Comment