Mense is almal uniek.
Mense los voetspore dwarsdeur hulle hele lewe, maar dan is daar húlle wat meer as net voetspore los... Een van hulle was Dot Serfontein, skrywer en woordkunstenaar... en familie van een van Ons Huis se vorige matrones.
Hier volg 'n kort lewenskets van een van Suid-Afrika se merkwaardige kinders...
Dot Serfontein (1925–2016, doopname Susanna Jacoba, getroude van Krog) was 'n Afrikaanse skrywer van kortverhale en kontreiverhale. Sy was die moeder van die digter Antjie Krog. Sy het ook onder die skuilname S.J. Nasau en Luca Fick geskryf.
J.C. Kannemeyer het in 1998 geskryf van sy oortuiging dat Serfontein "nog nooit werklik na waarde geskat is nie, dat haar essays van die beste kortkuns in Afrikaans is, selfs al skryf sy ’n betreklik konvensionele tipe prosa met niks van die eksperimente van party hedendaagse outeurs nie".
Susanna Jacoba (Dot) Serfontein is op 30 April 1925 in haar ouma Serfontein se huis op Kroonstad gebore as die derde kind van mnr. en mev. Kootjie Serfontein van Erfdeel. Haar vader was ’n bekende Afrikanerbeesboer in die Kroonstad-distrik. Die bynaam Dot kry sy omdat sy as klein dogtertjie nie “dogtertjie” kon sê nie, maar net “dottertjie”.
Sy gaan op die dorp skool, waar sy in die koshuis bly, en matrikuleer dan ook aan die Hoërskool Kroonstad. Ná skool is sy na die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1947 'n B.A.-graad behaal het en daarna 'n Hoër Onderwysdiploma. Ná universiteit, in 1948, word sy aangestel as onderwyseres in Engels en liggaamsopvoeding aan die Hoërskool Sentraal, Bloemfontein. Van 1949 tot haar troue was sy vroue-redaktrise van Die Volksblad. Serfontein begin in dié tyd gereeld kortverhale vir Sarie Marais skryf.
Sy trou in 1951 met die boer, geskiedkundige en politikus Willem Krog, wat ook ’n ruk joernalis by die Times in Kroonstad is. Die egpaar het drie seuns (Vyver, Kootjie en Willem) en twee dogters, die bekende digteres Antjie Krog en Jeannette (Pennie). Na die troue boer hulle op die plaas Middenspruit in die Kroonstad distrik, waar sy benewens kinders grootmaak en die normale plaaswerk ook saam met ’n paar plaaswerkers twee kliphuise bou en met Appaloosa-perde boer.
Nadat die kinders uit die huis is, sluit sy by die Vroue Landbou-Unie aan, neem kunsklasse en leer Suid-Sotho aan, wat sy vlot kan praat. Op gereelde basis lewer sy ook artikels en rubrieke vir Rooi Rose, Heilbron Herald en Farmers Weekly. Sy is lid van die Afrikaanse Skrywersgilde, maar bedank in 1989 wanneer sy nie saamstem met besluite wat op die skrywersberaad met die ANC by die Victoriawaterval geneem is nie.
Gedurende haar leeftyd gaan sy twee kere oorsee, waar sy ook Wes-Duitsland en Oos-Duitsland besoek, en sy behou haar belangstelling in hierdie land en sy letterkunde, musiek en kuns regdeur haar lewe. Sy tree gereeld op as spreker by byeenkomste soos geloftefeeste, herdenkings van die Anglo-Boereoorlog en die herdenking van Kroonstad se ontstaan en behandel gereeld haar eie en ander skrywers se werk by Leeskringe. In 2000, met die eeufeesherdenking van die Anglo-Boereoorlog, lewer sy ’n lesing oor die Anglo-Boereoorlog digters by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum. Sy is ouderling in haar kerk, die Kroonheuwel Noord-gemeente in Kroonstad.
Die Serfontein egpaar verlaat hul plaas met aftrede in 1999 om hulle in 'n aftreewoonstel op die dorp in Kroonstad te vestig. Haar man is in 2002 aan nierversaking oorlede. Sy woon daarna in 'n aftreeoord op haar geboortedorp.
Die skryfgogga het haar in 2008 weer gebyt, en sy het besluit om haar memoires te skryf. Haar outobiografie, Vrypas, het eindelik in April 2009 verskyn. Kort voor haar 88ste verjaardag (in 2013) het die Klein Karoo Nasionale Kunstefees haar vir haar lewensbydrae tot die verruiming en verryking van die leefwêreld van Afrikaans met die Afrikaans Onbeperk-prys vereer.
Sy is op 4 November 2016 in die ouderdom van 91 jaar in haar slaap oorlede.
Bron: Wikipedia
Fotograaf: Charles Smit
No comments:
Post a Comment